Update
STILBAAI NUUS - Om al van 06:00 af by die skool te wees is 'n tawwe dag, veral as mens in graad R is.
Ouers van leerders by Melkhoutfontein Primêre skool is ontstoke omdat die busdiens wat deur die Wes-Kaap departement van onderwys (WKOD) gekontrakteer is, hul kinders douvoordag by die skool aflaai.
Huis toe gaan tyd vir dié groep kinders breek op die vroegste eers weer teen 15:00 aan.
Volgens kontrakteur Lionel Fortuin van George is die roete wat by Rietvlei anderkant Melkhoutfontein begin, aan die begin van die jaar aan hom toegeken.
Daarvolgens laai hy die jonger kinders by dié laerskool af, waarna hy hoërskoolkinders op verskeie plekke langs die R305 na skole op Riversdal oplaai. Die roete eindig by Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool. Die middag word die omgekeerde proses gevolg en die jonger Melkhoutfontein-kinders kom noodgedwonge laaste aan die beurt.
Fortuin het gesê hy verstaan die ontsteltenis, maar tot die WKOD sy kontrak wysig sodat hy 'n tweede voertuig teen betaling in bedryf kan stel kan hy niks aan die saak doen nie.
Sy aanvanklike kontrak is slegs vir een voertuig op die hele afstand van die roete toegeken.
Op hul beurt het die WKOD by monde van Millicent Merton van hul direktoraat kommunikasie gesê distriksamptenare het dadelik met Fortuin begin onderhandel toe die probleem onder hul aandag gebring is. Volgens die departement se kennis is toestemming vir 'n tweede bussie teen Maandag 27 Januarie verleen, maar die kontrakteur het tyd gevra om die nodige reëlings te tref.
Daar is ook op Woensdag 22 Januarie op inisiatief van die WKOD 'n vergadering tussen skole en diensverskaffers by Gerrit du Plessis gehou om knelpunte te bespreek. Volgens Merton was almal dit eens dat leerders se veiligheid nie onderhandelbaar is nie. Die WKOD het ook beloof om die diensverskaffers se bekommernisse met verkeersowerhede te deel en 'n verkeersbeampte na toekomstige vergaderings te nooi.
In verwante nuus het 'n leser bewerings dat sommige busse op die roete wat leerders vanaf Garcia op Riversdal na hul verskillende skole vervoer, onveilig is, onder Suid-Kaap Forum se aandag gebring.
Daar is onder meer beweer dat die deur van een van die busse in die ry oopgegaan het.
Die kontrak vir dié roete is aan Manual Gomes van Gomes-vervoerdiens op Riversdal toegeken. By navraag het Gomes die bewerings ontken. Volgens hom het hy met die ouers van kinders wat op die roete woon vergader en nie een van hulle was bewus van 'n voorval waarin 'n bus se deur oopgegaan het nie.
IN SHORT
Parents at Melkhoutfontein Primary School are unhappy with the bus service transporting their children from Rietvlei to the school.
Lionel Fortuin from George to whom the contract was awarded by the Western Cape Department of Education drops them off at 06:00 when the gates are still locked, to reach the Riversdale schools on his route in time. The department and the contractor are in negotiations to solve the problem.
Lees 'n vorige artikel: Busdiens vir Melkies-leerders krap
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'