HESSEQUA NUUS - “Daar is rede tot paniek. Dis ‘n euwel wat in ‘n krisis kan ontaard as dit nie omsigtig en spoedig gehanteer word nie. Ek sal dit nie duld nie. Ons moet dit oorwin!” verseker Andrew Stoebel, die burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit.
Hy reageer heftig op die dood van 23 kinders en oor ‘n honderd wat landwyd siek geraak het weens plaagdoder-vergiftiging, nadat hulle versnaperinge geëet het wat by huiswinkels, die sogenaamde ‘spaza shops’ gekoop is.
In die Hessequa-streek is daar volgens rekord 103 spazawinkels, waarvan 102 in besit is van ‘n geskiktheidsertifikaat. Vyf winkels is tydelik gesluit, nadat hulle self besluit het om sakebedrywighede te staak.
Roetine-inspeksies word gereeld by spazawinkels gedoen. In die afgelope maand is daar reeds 288 inspeksies by huiswinkels in die Tuinroete-distrik uitgevoer. In samewerking met die Hessequa-munisipaliteit en die SAPD is verskeie blitsoperasies in Stilbaai, Melkhoutfontein en Heidelberg van stapel gestuur.
Nog blitsoperasies word vir Albertinia, Slangrivier en Riversdal beplan. Die doel van hierdie optrede is om te verseker dat veilige voedsel aan gemeenskappe verkoop word.
“Protokolle moet saamgestel word om die registrasieproses van huiswinkels te beheer. Gesamentlike blitsoperasies moet deurlopend uitgevoer word.”
* Indien jy onseker is oor die veiligheid van ‘n produk, kontak die plaaslike munisipale gesondheidsafdeling by 028 713 2438. Die omgewingsgesondheidpraktisyn is bereidwillig om met wenke oor tuishigiëne en voedselsekerheid te help.
* Suid-Kaap Forum berig volledig in die uitgawe van 22 November.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’