Video
HEIDELBERG NUUS - Klassieke musiek met ’n Bulgaarse geur het feesgangers behoorlik op hul voete gehad toe die Hessequa Harmoniefees se Bulgarian Brunch vanoggend ’n stampvol Proeviand op Heidelberg getrek het.
Miroslav Chakaryan op viool, Susan Mouton op tjello en Elna van der Merwe op klavier het feesgangers met ’n program van werke deur Haydn, Brahms en Mendelssohn, asook tradisionele Bulgaarse musiek, bekoor.
Die gehoor se waardering was duidelik toe die uitvoering met ’n staande ovasie afgesluit is.
Ná die musiek het feesgangers by Proeviand gekuier en van die restaurant se smulspyskaart geniet.
Die musiek is egter nog lank nie stil op Heidelberg nie.
Feesgangers kan vanaand om 19:00 na die openingskonsert, Spiritual Songs, in die stadsaal uitsien.
Die bariton Niël Rademan en sopraan Paulina Malefane tree saam met Chakaryan, Mouton, Van der Merwe en die RUK-koor onder leiding van Pam de Goede op.
Die program sluit geliefde geestelike keuses soos Amazing Grace, Danny Boy en I’ll Walk with God in.
Daarna skuif die feesgees om 20:15 na die banketsaal, waar feesgangers tydens die VRL-kuierkamer met kaas en wyn kan ontspan en verder kuier.
Video: Ben Snyman
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’