STILBAAI NUUS - Toe die ergste inperkingspyne van die tweede Covid-19-siklus verbygaan, verneem 'n Stilbaai-inwoner, ds Paul du Toit, dat die tuinkomitee van Huis Stilbaai in die binnehof en sommer oral rondom die aftreeoord tuinmaak.
Deur hulle kamervensters het die inwoners gesien hoe alles buite saam met die virussiekte wegsterf.
Ook binne die tehuis het die inwoners weggekwyn in 'n groot verlange om net naby hulle familie en buite in die natuur te kom.
Die begin van 'n droom
Paul loop in hierdie tyd toevallig vir Maxie du Plooy, een van die bejaarde seniors in 'n winkel raak. Hy het toe reeds gehoor dat sy een van die voorvatters in die tuin is. Na 'n gesprek oor al hulle planne en sy aanbod om te help, vra sy of hy bereid sal wees om met 'n kuierplek onder die bome wat sy (Maxie) jare gelede geplant het.
Met die eerste gesprek onder die betrokke bome het Maxie 'n halfmaan op die grond getrek met die wens dat hulle daar 'n plek skep waar inwoners en hulle families kan saamkuier en die buitelug geniet.
'n Klein komitee vorm toe 'n dinkskrum en die behoeftes word neergepen. Dit moet veilig wees, daar moet son en skaduwee wees en dit moet verkieslik 'n bietjie uit die wind wees. Dit moet natuurlik ook rystoel- en stootkarretjie-vriendelik wees.
Uit hierdie droom word opmetings toe gedoen, 'n plan is opgetrek en die nodige goedkeurings is verkry. Net die geld kort, daarom is die 'ONS-projek' begin. Alles was gereed vir die fondsinsameling toe die volgende Covid-golf kom.
Die inperking in Huis Stilbaai was selfs erger as voorheen en die droom vir die buitelug kuierplek het begin vervaag, maar toe word die inperkings gelig wat almal weer moed gegee het.
Die droom word waar
'n Paar inwoners begin met 'n inisiatief om 'n wandelpaadjie in die binnehof uit te plavei. 'n Groot plan van die kuierplek word geteken met 5 500 blokkies wat ingekleur kan word. Vir elke R10 wat iemand skenk, word een blokkie rooi ingekleur.
Die eerste verrassing kom toe die Vriende en Familiegroep van Huis Stilbaai besluit om byna die helfte van die projek te betaal uit geld wat elders gespaar is. Met hulle geborgde gholfdag, gereelde verkopings en wonderlike inisiatiewe help hulle deurlopend om hierdie aftreeoord te help.
Die tweede groot verrassing is toe 'n anonieme skenker aanbied om vir elke R10 wat inwoners van Huis Stilbaai skenk, te verdubbel.
Die projek het lewe begin kry en die plaveistene word bestel. Iemand het reeds op eie koste drie bankies, nege stoele en drie koffietafels bestel ter herinnering aan 'n inwoner wat tydens die pandemie aan natuurlike oorsake dood is.
'n Groepie kinders van Pikkewouter-kleuterskool en 'n klomp leerders van Laerskool Bertie Barnard het Maandag, 18 Oktober ingespring en die plaveistene van buite tot in die binnehof te dra as hulle bydrae tot die projek. Selfs die teenwoordige onderwysers en ouers van Bertie Barnard het fluks meegedoen.
Ds Paul du Toit (projekleier) met kleuters van Pikkewouter-kleuterskool.
Karlien Saayman, bestuurder van Huis Stilbaai bedank almal vir elke bydrae wat alreeds gemaak is of nog kom. "Die feit dat verskillende instansies so goed kan saamwerk om 'n verskil te maak, is prysenswaardig," het sy gesê.
Die beoogde voltooiing van die projek is 4 November vanjaar. Voornemende skenkers of vir enige navrae, kontak Huis Stilbaai (028 754 1560).
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'