HESSEQUA NUUS - Die brand wat Sondag 1 Desember naby die N2 tussen Dekriet en Albertinia uitgebreek het, het Maandag en Dinsdag herhaaldelik opgevlam en brandweer- en ander nooddienspersoneel van Hessequa en die Garden Route-distriksmunisipaliteit was teen Dinsdagmiddag steeds op die toneel.
Die droë toestande en vlamme wat deur 'n sterk wind aangewakker is, het gelei tot 'n baie warm en gevaarlike vuur wat minstens die helfte van die plantegroei oor 'n gebied van nagenoeg 50 000 ha vernietig het.
Geen menselewens, vee of strukture het in die slag gebly nie, maar infrastruktuur soos heinings en watertenks is vernietig.
Volgens Deon van Wyk, adjunk-bevelvoerder van GRDM-brandweer, was daar buitengewoon baie slange wat voor die brand uit gevlug het, terwyl talle skilpaaie nie so gelukkig was om weg te kom nie.
Die plaaslike en provinsiale verkeersowerhede het hul hande vol gehad om die verkeersvloei te reguleer, want die sig was swak weens digte rookwolke wat oor die N2 gehang het. Die verkeer is met behulp van 'n stop/rypunt beheer en lang stringe voertuie het weerskante van die brand opgedam.
Volgens Hessequa-munisipaliteit is die beheerkamer omstreeks 13:20 deur 'n lid van die gemeenskap van die brand in kennis gestel. Toe brandweervoertuie van Albertinia minute later opdaag was die brand reeds buite beheer. Nog brandweervoertuie is van Riversdal en Stilbaai, asook twee watertenks van die munisipaliteit se tegniese afdeling is na die toneel gestuur.
Garden Route-distriksmunisipaliteit (GRDM) se hulp is ingeroep, wat 'n verkennervliegtuig en 'n brandbestrydings-helikopter ontplooi het. Die vlieënier van die vliegtuig was deurentyd in kontak met Van Wyk, wat die inligting oor die brandpunte aan die helikoptervlieënier oorgedra het. Op sy beurt het hy die vlamme op strategiese plekke natgegooi. Die brandweerspanne is bygestaan deur spanne van Working on Fire, Riversdal EMS, Mosselbaai se provinsiale verkeer, Albertinia-polisie, die Goukou-plaaswag en boere uit die omgewing.
Teen 10:00 Sondagaand was die brand onder beheer. Maandagoggend 09:00 is 'n verkenningsvlug onderneem om die situasie te moniteer. Teen 15:00 het die vuur, aangeblaas deur die stormsterk wind, weer opgevlam, maar dié keer was dit weg van die N2 en verkeer op die hoofweg is nie belemmer nie.
Brandweerpersoneel van Riversdal en George was deurnag op die toneel om smeulende plantmateriaal wat weer weens die sterk wind opvlam, onder beheer te hou.
Dinsdagoggend was die spanne, bygestaan deur Working on Fire-lede, steeds op die toneel. Van Wyk meen die vakansie- én brandseisoen wat voorlê gaan uitdagend wees omdat die veld baie droog is, die reën wegbly en sommige dele tot 10 jaar laas gebrand het.
Lees vorige artikels:
- Albertinia brand vlam weer op
- N2 oop, brand onder beheer
- N2 stop-en-ry in plek by brand
- N2 gesluit weens veldbrand
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'