RIVERSDAL NUUS - Rook is vroeg Saterdagoggend hoog in die lug in die middel van berg in die Langkloof opgemerk.
Brandbestryders het onmiddellik soontoe gehaas en vasgestel dat daar ‘n vuur ontstaan het. “Ons weet nog nie hoe dit begin het nie, maar ons kon vasstel dat dit nie naby enige infrastruktuur is nie en dat geen lewens in gevaar is nie,” sê Deon Stoffels, die hoof van brandweerdienste van die Tuinroete-distrik.
Daar is vasgestel dat die brand op grond van Cape Nature woed. Cape Nature moniteer sedertdien ook die situasie.
Stoffels wys uit dit is onmoontlik vir voertuie om die gebied te bereik. “Danksy die afgelope week se 100 mm reënval het die brand homself in sekere gebiede uitgewis. Die verwagting was dat die brand in die areas met meer groenigheid sou afneem en homself sal uitwoed.”
Grondspanne was die heeltyd op die toneel en daar is Sondagoggend vasgestel dat die brand egter dieper in die kloof versprei. “Dit is bloot onmoontlik om met ‘n voertuig daar uit te kom. Boonop het die weer in die loop van dag gedraai en die berg was heeltemal met digte mis oortrek. Ons het besluit om die brandbestryders, ter wille van veiligheid, teen tienuur Sondagaand voorlopig te onttrek,” sê Stoffels.
Hulle is vroeg vanoggend weer ontplooi om die situasie te moniteer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’