STILBAAI NUUS - Anton Chevalier, omgewingsaktivis van Stilbaai, het met die finansiële en fisiese bystand van die Gouritz-groepsbiosfeerreservaat 80 melkhoutbome bekom wat hy met die hulp van verskeie organisasies regoor Stilbaai plant.
Woensdagoggend, 3 September, het Chevalier, Marinda van As en Erin Martin van die reservaat, asook Debbie Fraser en Charlene Mentz, 18 melkhoutbome op die stuk grond langs die brug oor die Goukourivier geplant.
Tuin-Op-Die-Brak se werkers, onder leiding van Anna Frances, asook die kinders van die Stilbaai-kindersentrum, het op hulle beurt bome op die rivieroewer oorkant Tuin-Op-Die-Brak geplant, terwyl die kinders meer geleer het oor boomplantmaand.
By Pikkewouter-kleuterskool het Van As die kinders ook geleer van boomplantmaand waarna hulle melkhout- en vrugtebome op die skoolterrein geplant het.
Stilbaai-roeiklub het in die omgewing van hulle bootstoor en die amfiteater 20 melkhoutbome geplant met die hulp van IALA se studente.
Chevalier is passievol oor die uitroei van indringerplante en die aanplant van inheemse, endemiese plante in en om Stilbaai. Sy gewoeker terwyl hy sy passie uitleef, is 'n algemene gesig op die dorp.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’