RIVERSDAL NUUS - 'n Eskalerende konflik in die Midde-Ooste stuur skokgolwe deur Suid-Afrika se ekonomie, met kenners wat waarsku dat skerp stygings in brandstofpryse boere, besighede en verbruikers swaar gaan tref.
Intussen kan boere in Riversdal reeds die impak voel. Volgens Riversdal vlakte-landbouvoorsitter, AJ van Wyk, is produsente in die Riversdal-omgewing reeds vasgevang in 'n "koste-knyptang" ná jare van stygende insetkoste en swak produsentepryse.
Geen ruimte vir risiko
"Daar is tans geen ruimte vir risiko nie.
Enige verdere styging in diesel of kunsmis gaan 'n geweldige druk op winsgewendheid plaas," sê hy.
Van Wyk wys daarop dat brandstof een van die grootste uitgawes in beide die graan- en veebedryf is, terwyl die koste en beskikbaarheid van kunsmis - wat grootliks ingevoer word - ook weens ontwrigte handelsroetes onder druk is.
Hy waarsku dat verhogings ernstige gevolge inhou, maar dat brandstof- en kunsmistekorte 'n veel groter probleem kan veroorsaak.
Plaaslike sakelui deel dié kommer.
Die konflik dryf bedryfskostes op, veral in logistiek, en kan uiteindelik na verbruikers deurwerk.
Met droogtetoestande wat die streek reeds knou, kan verdere kostestygings en moontlike tekorte ernstige gevolge vir die landbou, ekonomie en voedselpryse inhou.
Vulstasie-eienaar van Riversdal voorspel probleme
Daar is reeds 'n dieseltekort in die dorp, sê vulstasie-eienaar Frans Myburgh, en verskaffers kan nie by die aanvraag voorbly nie.
Sedert hy in 1988 in die bedryf is, het hy nog nooit so 'n situasie beleef nie.
Hierdie tekorte het alles te doen met die Straat van Hormuz wat gesluit is.
Die olietenkskepe moet nou die langer roete na die Kaap neem, waarna dit van daar af na verskillende depots versprei word.
Myburgh reken hierdie tekorte gaan 'n direkte impak op boere, besigheidseienaars en verbruikers hê.
Daar is bakkerye in die dorp wat van diesel afhanklik is en dit gaan binnekort hul produksie beïnvloed.
Myburg vra dat kliënte nie paniek-aankope moet doen nie.
Myburgh sê die voorspellings wat hy Woensdag vir die verhoogde brand-stofpryse ontvang het, is R4,93 vir petrol en R8,15 vir diesel.
Dawie Roodt
Ekonoom Dawie Roodt sê die spanning tussen die VSA en Iran het reeds internasio-nale oliepryse laat styg, wat direk tot hoër petrol- en dieselpryse in Suid-Afrika lei.
Die jongste aanpassing het reeds stygings van tot 65c per liter diesel gebring, terwyl vroeë voorspellings daarop dui dat petrol met meer as R4 en diesel met meer as R7 per liter in April kan styg.
"Hoe langer die olieprys hoog bly, hoe groter word die probleem," waarsku Roodt, en voeg by dat 'n swakker rand en hoër invoerkoste verdere druk op inflasie en rentekoerse kan plaas.
Vroeë voorspellings wys dat verdere stygings in April moontlik is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’