HESSEQUA NUUS - Die Hessequa-munisipaliteit het gereageer op vrae vanuit die landbougemeenskap oor vullisverwydering in landbougebiede en bevestig dat produsente nie vir die verwydering van vullis vanaf hul plase betaal nie - slegs vir die verwerking daarvan by die munisipale terrein.
Volgens die munisipaliteit ontstaan daar gereeld misverstande oor die aangeleentheid.
As gevolg van nasionale wetgewing wat die verbranding van huishoudelike vullis op plase verbied, is daar tydelik vullishokke opgerig om landbouers te help.
Hierdie tydelike maatreël het egter tot ernstige probleme gelei, waaronder onwettige storting en gesondheidsrisiko’s.
Die provinsiale regering het gevolglik opdrag gegee dat die vullishokke verwyder moet word.
Hessequa beskik oor sowat 4 700 km grondpaaie, wat ’n plaas-tot-plaas verwyderingsdiens uiters duur en logisties onmoontlik maak.
Die huidige R83 per maand wat landbouers betaal, dek dus uitsluitlik die verwerkingsproses op die terrein - insluitend personeel, materiaal en masjinerie.
Die munisipaliteit doen ’n beroep op alle landbouers om hul vullis self na die aangewese terrein te vervoer, en bedank diegene wat reeds verantwoordelik optree en bydra tot ’n skoner, veiliger en volhoubare omgewing.
Navrae kan gerig word aan die munisipale bestuurder, Albert de Klerk, by mm@hessequa.gov.za of 028 713 8000.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’