Video
ALBERTINIA NUUS EN VIDEO - Hy boer al meer as 40 jaar in die Albertinia-distrik, maar in dié tyd het Danhauzer Uys nog nooit 'n nuwe trekker besit nie. Hy moes maar altyd met ou trekkers klaarkom.
Maar sy gesukkel met ou trekkers se dae is helaas verby danksy 'n gelukkie van 'n raps oor die R1 miljoen wat hom onlangs tydens sy deelname aan Case IH en Landbouweekblad se trekkerkompetisie getref het.
Danhauzer het Nampo Kaap op 14 September bygewoon en is aangewys as een van vyf finaliste van 'n trekkerkompetisie by Case IH se stalletjie.
Die vyf finaliste het elkeen 'n sleutel ontvang en die houer van die sleutel wat die trekker kon aanskakel sou wegry met 'n splinternuwe Case IH Maxxum 110-trekker ter waarde van R1 100 000.
Danhauzer sê toe die vyf finaliste in 'n ry gaan staan met hul sleutels, was die spanning en opgewondenheid onder al die aanwesiges tasbaar.
"Ek wou egter nie te gou opgewonde raak nie anders sou die teleurstelling te groot gewees het as my sleutel nie gepas het nie. Dat my senuwees gepla het, sal ek ruiterlik erken."
"Maar toe ek die sleutel aansluit en ek sien die trekker se liggies gaan aan, het my emosies op loop gegaan. Dit was 'n onbeskryflike gevoel toe die besef deurdring dat ek die sleutel vashou van my eerste nuwe trekker in 40 jaar. Ek kon nog nooit 'n nuwe trekker bekostig nie."
Hy vertel dat hy net baie ou trekkers gehad het. "As die een breek, maak ek hom hom reg en dan werk hy weer vir so 'n rukkie en sukkel-sukkel ek maar so voort. Daar is al trekkers wat meer as 14 000 ure op hulle het. En nou sit ek met 'n bielie van oor 'n R1 miljoen. Dit het nog nie behoorlik ingesink nie."
VIDEO: Wenner van die Landbouweekblad en Case IH-trekker kompetisie
Stephan Nel, besturende direkteur van Case IH Suidelike Afrika, sê dit is ongelooflik hoe dié situasie uitgedraai het.
"Ons was uiteraard nie bewus van Danhnauzer se situasie en agtergrond met ou trekkers nie. Dis so gepas dat juis hy die trekker moes wen, want hy verdien só 'n geluk. Die trekker het beslis sy regte eienaar gekry. Dit was vir my ook 'n baie emosionele oomblik."
Stephan sê die deelnemers is boere wat kon inskryf vir die gelukstrekking en ons het nie regtig die tyd gehad om almal se storie te hoor gedurende die kompetisie nie.
Danhauzer sê hy kan dit steeds nie glo nie en dat hy steeds nie kan ophou glimlag nie. "Nou het ek gemoedsrus en kan ek met groot gemak verder op die koringlande van sy plaas in Albertinia werk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’