STILBAAI NUUS - Net soos met die eerste vriendskaplike wedstryd van die seisoen toe Riversdal Blues Melkhoutfontein toe gereis het moes Seagulls, in hulle laaste vriendskaplike wedstryd, weer die knie buig in Riversdal.
Alhoewel Seagulls se A-span rustyd met 17 - 13 voorgeloop het, het Blues in die tweede helfte nuwe lewe gekry en die wedstryd beklink met 'n telling van 30 - 24.
Seagulls se B-span het 'n slegte dag op kantoor gehad en hier het Blues die punte opgestapel om met 38 - 0 te wen.
Die twee C-spanne het 'n baie gelykop wedstryd gehad, maar Blues kon die knoop deurhaak met die eindtelling 14 - 5 in hulle guns.
Seagulls het 'n baie goeie voorseisoen gehad en die afrigters kan nou skaaf aan die foute sodat hulle gereed is vir 'n baie harde seisoen in die Superliga A afdeling.
Marlin Jansen, voorsitter van Seagulls is baie positief en sê dat hulle gaan werk aan hulle fiksheid en hulle het ook te veel strafskoppe afgestaan, veral by die afbreekpunte.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’