Update
SUID-KAAP NUUS - Donderweer, weerlig en stormsterk winde het Maandag 29 Oktober verwoesting in die Suid-Kaap gesaai.
As gevolg van weerlig wat die Langeberge getref het, het 'n gedeelte van Sleeping Beauty, Langkloof en Klipfontein begin brand. Dit het volgens ooggetuies tussen 10:00 en 11:00 ontstaan. Brandbestryders het tot in die vroeë oggendure gespook om die vlamme onder beheer te kry.
Rukwinde het hul werk bemoeilik en 'n reënbui wat 05:00 uitgesak het, het gehelp om die berge af te koel. Charl Wade van Southern Cape Fire Protection Association (SCFPA) het bevestig dat 'n derde brand ook aan die oostekant was. Personeel van SCFPA, Working on Fire, Garden Route-distriksmunisipaliteit, Hessequa-munisipaliteit en grondeienaars was op die toneel.
Die vuur het tot teen die pad in die Garciapas versprei. Uile, slange, bokkies en ander diertjies wat gevlug het, kon oral langs en in die pad gesien word.
'n Plaaslike landbouer wat met blomme aan Muiskraal se kant boer het groot skade gekry. Bykans 50 hektaar van die blomme wat hom sewe jaar geneem het om te plant, is verwoes. "Iets wat jou jare neem om op te bou word in 'n oogwink verwoes. Jy is magteloos en aan die natuur se genade oorgelaat," het dié moedelose blommeboer aan Suid-Kaap Forum gesê. Niemand is beseer nie.
Volgens Hessequa-munisipaliteit is dié gebiede veilig verklaar en die vuur geblus.
Weerlig het ook brande by Grootvaders-bosch aan Swellendam se kant veroorsaak. Besoekers is versoek om gastehuise te ontruim.
Swellendam-brandweer was op die toneel.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'