RIVERSDAL NUUS - 'n Buurtwaglid van Stilbaai-Oos wat nie amptelik aan diens was nie, het die afgelope naweek 'n Chinese egpaar van gewisse verdrinking gered.
Patrick Jonnson, afgetrede inwoner van dié kusdorpie het volgens hom Saterdag, 5 Maart laatmiddag 'n bietjie by die riviermond gaan stap toe hy benoude geluide hoor.
"Ek het dadelik gesien dat 'n manspersoon in die moeilikheid verkeer en het aanvanklik gedink sy hond ook, omdat ek net hare voor hom op die watervlak gesien het," het hy aan Suid-Kaap Forum vertel.
Dit was egter die man se vrou wat onder die watervlak was.
Jonnson en twee mans wat in die omgewing besig was om vis te vang, het die twee drenkelinge oombliklik te hulp gesnel en na veiligheid gebring.
Daarna het verskeie omstanders ook hand bygesit en die nooddienste is in kennis gestel.
"'n Vrou het selfs van die oorkant van die riviermond geswem om te kom help. Mens kon sien dat sy 'n sterk swemmer is."
Die vrou, wat water begin braak het is eerste per ambulans na Riversdal-hospitaal vervoer. Haar man is daarna ook na die hospitaal. Hy is na behandeling ontslaan, maar die vrou is volgens inligting eers Maandag ontslaan.
Jonnson het later aan die koerant gesê dat 'n buurtwaglid eintlik nooit van diens is nie, omdat hulle daaraan gewoond raak om oplettend te wees.
Hy het bygevoeg dat mense die fout maak om die diepte en sterk strome van die riviermond onderskat, selfs al is dit laagwater.
Lees vorige artikel:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'