RIVERSDAL NUUS - Meer as 500 plaaslike tienermeisies sukkel daagliks om met waardigheid skool by te woon weens ’n gebrek aan toegang tot basiese sanitêre produkte.
In reaksie hierop het Meghann Louwrens van Riversdal Toyota verlede week ’n gemeenskapsinisiatief van stapel gestuur om sanitêre doekies vir hierdie jong meisies in te samel.
“Een boks sanitêre doekies kos omtrent dieselfde as ’n koppie koffie, maar vir ’n meisie beteken dit ’n maand van selfvertroue en die vrymoedigheid om met trots klas by te woon,” sê Louwrens.
Die veldtog moedig inwoners aan om net een pakkie sanitêre doekies by hul weeklikse inkopies te voeg en dit te skenk.
Skenkings kan in die gemerkte houers by Riversdal SuperSpar, Medidal Apteek of Riversdal Toyota geplaas word.
Plaaslike besighede word ook uitgenooi om as borge in te tree.
“Hierdie is nie net ’n gesondheidskwessie nie, dis ’n onderwys- en waardigheidskwessie. Elke meisie verdien die kans om te leer sonder skaamte of hindernisse,” voeg sy by.
Die veldtog het reeds ’n positiewe reaksie van die gemeenskap ontlok, en die hoop is om ’n volhoubare netwerk van ondersteuning te vestig vir maandelikse verspreiding aan skole in die omgewing.
Vir meer inligting of om betrokke te raak, kontak Meghann Louwrens by 072 797 2544.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’