SUURBRAAK NUUS - Daar word nou al ses maande naarstiglik na ’n pa van twee seuns gesoek.
Johan ‘Jorsie’ Titus (47) van hier het sedert vroeg Donderdagoggend, 17 Julie 2025, soos mis voor die son vanaf sy huis in dié rustige dorp net buite Swellendam verdwyn.
Titus se twee seuns, Lo-Hann (24) en Antonio-Lee (16), ’n gr. 10-leerder, is rasend van bekommernis oor die veiligheid van hul pa sedert hy vroegoggend daardie dag spoorloos uit hul lewe verdwyn het.
Volgens Anthea Titus, sy voormalige eggenoot, van wie hy sedert 2022 geskei is, het hul twee seuns ten tyde van sy verdwyning by hul pa gebly.
Sy noem verder dat Jorsie by die plaaslike koöperasie werksaam was toe hy skielik en sonder enige rede vermis geraak het.
Gepols oor of hy enige nota of brief agtergelaat het, het sy bevestig dat hy geensins enige aanduiding gegee het dat hy van plan was om sy twee seuns deur so ’n moeilike stryd te sit nie.
Sy noem wel dat sy, asook hul seuns, baie bekommerd is, aangesien hy op medikasie was wat hy daagliks moes gebruik om sy geestestoestand stabiel te hou.
Titus noem verder dat daar talle soektogte in en rondom Suurbraak van stapel gestuur is om hom op te spoor.
“Ons as familie en die gemeenskap het al vele leidrade opgevolg, maar nie een het positiewe resultate opgelewer nie.”
Volgens Titus het die plaaslike polisie en ander rolspelers ook aan verskeie soektogte deelgeneem, maar dit is ná ’n paar dae afgelas.
Sy het egter beklemtoon dat hulle as familie en gemeenskap weereens hul soektog ná die onlangse brande in die omgewing gaan voortsit, in die hoop dat hulle dié keer antwoorde op hul gebede sal kry.
Daar word ’n dringende beroep gedoen op enigiemand wat weet waar Jorsie hom bevind om met Anthea Titus by 076 348 3107, die Suurbraak-polisie by 028 522 8000, of enige ander polisiestasie kontak te maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’