STILBAAI NUUS - Debbie Smith (31), bekende fotograaf van die Hessequa-streek en eienaar van Dejavu Fotografie, asook mede-eienaar van Branded DVD op Stilbaai, het Saterdagmiddag 12 Januarie in die see by die Jongensfontein-poel verdrink.
Sy het saam met haar man, Johannes en vriende in die poel geswem.
“Die see was heel kalm toe ons daar gekom het. Ons het nie geweet dit is springgety nie en meteens het ’n sterk stroom ons meegesleur, oor die skerp rotse na die see se kant toe,” het ’n gebroke Johannes aan Suid-Kaap Forum gesê.
“Debbie was ’n ent van my af en het na my om hulp geroep. Die stroom het my egter vasgehou en hoe ek ookal probeer het, kon ek glad nie by haar uitkom nie.”
Een van hul vriende kon haar bereik en het haar na die rotse geneem. Nog mense, waaronder die plaaslike NSRI het kom help, maar dit was te laat. Dr. Edden Kift, wat daar naby woon, was ook op die toneel en het haar om 16:20 dood verklaar.
“Debbie was ’n baie saggeaarde mens met ’n groot liefde vir diere. Sy was die mooiste mens wat ek geken het, van binne en buite. Sy het geglo om mense om haar altyd gelukkig te maak en het uit haar pad gegaan vir haar vriende. Sy was ’n juweel van ’n mens...”
Johannes bedank almal wat sulke pragtige boodskappe op sosiale media geplaas het. “Dit beteken baie vir ons. Daar is soveel mense wat ons bystaan, hulp aanbied en ondersteun.” Hy bedank ook die NSRI en dr. Kift vir hulle hulp.
Die egpaar sou op 22 Februarie vanjaar hul vyfde huweliksherdenking vier. Buiten Johannes laat Debbie haar ouers, Belinda en Tap Smith, asook hul kattekind agter. Haar roudiens vind Saterdag 19 Januarie om 10:00 by die NG Kerk Stilbaai plaas.
• Hoewel die omstandighede heeltemal anders was, het Stefan Marais, ’n jong leerder van die Hoër Landbouskool Oakdale, verlede jaar op 19 Januarie in die Goukourivier op Stilbaai verdrink.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'