TUINROETE NUUS - Ná bykans 'n week van gespanne afwagting is die vermoedelike geval van bek-en-klouseer (BKS) op 'n suiwelplaas naby Hartenbos op Woensdag 12 Februarie deur die staatsveearts, dr. Leana Janse van Rensburg, as positief bevestig.
Die plaas is amptelik onder kwarantyn geplaas en 'n 10 km-biosekuriteitsgebied is ingestel.
Die bevestiging volg op toetsuitslae wat op 12 Februarie ontvang is en 'n Multi-Agentskap Bevelsentrum-vergadering van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (TRDM).
Die gesamentlike verklaring is deur Agri Wes-Kaap, die Wes-Kaapse regering en die distriksmunisipaliteit uitgereik.
Skoue reeds geraak
Die impak van die uitbraak is reeds sigbaar.Die Heidelberg- en Riversdal-skoue, wat die komende naweke plaasvind, het besluit dat geen gesplete hoefdiere - insluitend beeste, skape, bokke en varke - aan die skoue mag deelneem nie.
Boere en owerhede is intussen op hul agtervoete om streng voorsorgmaatreëls toe te pas om 'n moontlike epidemie te voorkom.
Nuwe verdagte gevalle
Volgens Janse van Rensburg toon vee op twee plase aangrensend aan die indeksplaas ook letsels wat met BKS ooreenstem.Monsters is geneem en uitslae word later vandeesweek verwag. Verskeie kalwers het reeds gevrek.
"Voorlopige kwarantynkennisgewings word aan plase binne 'n 10 km-radius uitgereik," het sy bevestig.
Sy het verduidelik dat haar span ná 'n besoek aan 'n plaas met verdagte letsels, vir minstens drie dae - om kruisbesmetting te voorkom - geen ander plase sal besoek nie.
Vee op plase waar letsels voorkom, sal ingeënt word om verdere verspreiding en viruslading te beperk.
Alhoewel die betrokke suiwelplaas as 'n "geslote trop" funksioneer, is daar gemeenskapsbeeste, 'n slagpale en wildplase binne die 10 km-radius.
Regering stel R100 miljoen beskikbaar
Premier Alan Winde en die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, het aangekondig dat R100 miljoen beskikbaar gestel is vir die aankoop van BKS-entstowwe.Die provinsie werk nou saam met die nasionale departement van landbou om die entstofprogram doeltreffend te bestuur.
Winde het gesê 'n stelsel om dierebewegings streng te reguleer en permitte af te dwing, sal binne dae ingestel word.
Die Wes-Kaapse rampbestuursentrum het ook 'n 21-puntplan bekendgestel wat onder meer die volgende insluit:
- 10 km-biosekuriteitsgebiede by sleuteltoegangspunte.
- Beperking van diere- en voertuigbewegings
- Ontsmetting van toerusting en voertuie
- Geen toegang vir ongemagtigde persone tot plase
- Kontrolepunte en streng optrede
Verskeie kontrolepunte is reeds opgerig en word 24 uur per dag beman.
Sleutelrolspelers sluit in die SAPD, provinsiale verkeersdienste, munisipale wetstoepassers, Agri Wes-Kaap, rooivleis- en melkprodusente-organisasies en die departement van landbou se veterinêre dienste.
Provinsiale verkeersdienste het tussen 2 en 8 Februarie vyf gespesialiseerde operasies uitgevoer.
Altesaam 1 662 voertuie wat vee vervoer, is geïnspekteer en 838 is gesif. Vier voertuie is van die pad verwyder weens onpadwaardigheid en 238 boetes ter waarde van R347 850 is uitgereik.
Volgens die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, Isaac Sileku, is die samewerking noodsaaklik om die landbou-ekonomie te beskerm en siekteverspreiding te voorkom.
Landbou-ekonomie op die spel
Die burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Marais Kruger, het die provinsiale regering geprys vir hul vinnige optrede en beklemtoon dat die landbousektor sowat R14 miljard tot die Wes-Kaapse ekonomie bydra.Hy het produsente versoek om streng biosekuriteitsmaatreëls toe te pas, geen onnodige beweging van diere toe te laat nie en alle protokolle na te kom.
Agri Wes-Kaap: Dokumente verpligtend
Volgens Agri Wes-Kaap se kommunikasiebeampte, Rojeanne de Wet, moet enige vervoerder van gesplete hoefdiere drie dokumente byderhand hê:- 'n Eienaarsverklaring
- 'n Ontvangersverklaring
- 'n Sertifikaat ingevolge Artikels 6 en 8 van die Wet op Veediefstal.
Streng bewegingsbeperkings geld binne die 10 km-radius, hoewel geen formele permitte nog afgekondig is nie.
Wildplase word intussen sterk aangeraai om nie karkasse van beeste vanaf geaffekteerde of naburige plase te aanvaar nie, veral waar buffels of ander gespletehoefspesies teenwoordig is.
Ken die tekens
Simptome van BKS by beeste sluit in blasies en erosiewe wonde aan die voete, tussen tone, in die mond, op die tong en uier.Ander tekens is mankheid, koors, lusteloosheid, kwyl, verminderde melkproduksie en die skielike dood van kalwers.
Produsente word versoek om alle vermoedelike gevalle onmiddellik aan te meld by die Tuinroete-noodoproepsentrum by 044 805 5071 of via WhatsApp by 081 709 5193.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’