Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Bejaarde egpaar van Witsand is Sondagoggend 19 November erg getraumatiseer toe hul bakkie se voorruit met 'n onbekende voorwerp getref is.
Volgens hul dogter, Bets Hoffman was haar ouers, Daan (87) en Dina (78) Oosthuizen om 10:15 onderweg na die huis vanaf Heidelberg op die Witsandpad toe haar ma, wat bestuur het, 'n kleinerige wit motor net na Soutpan verbygesteek het.
'n Wit bakkie met 'n platbak, vermoedelik 'n afleweringsvoertuig, het in die teenoorgestelde rigting aangekom.
"Toe hy amper by my ouers is, het hy vir hulle ligte geflikker en toe hy verbygaan het hy iets uit die venster op hulle bakkie gegooi wat die voorruit erg beskadig het."
Hulle het na die plek gegaan waar die voorval gebeur het om vas te stel waarmee die ruit beskadig is en op 'n vyfliter plastiekkan afgekom wat vermoedelik gebruik is.
Die plastiekkan wat vermoedelik gebruik is. Foto verskaf
Dit was omtrent kwart met water gevul. Hoffman het 'n beroep op die insittendes van die wit motor gedoen wat ook op die pad was, om hulle te kontak.
"Ons glo hulle sal ons met meer inligting oor die kwaaddoener kan help."
Enigiemand met inligting oor die eienaar of bestuurder van die bakkie kan haar by 028 537 1007 of 082 563 6987 skakel.
Lees 'n vorige artikel: Groot skade toe voorwerp voorruit tref
ARTIKEL: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'