HESSEQUA NUUS - 'n Reeks veld- en beheerde brande wat onlangs in die Swellendam, Heidelberg, Stilbaai en Oudtshoorn gebiede uitgebreek en buite beheer geraak het, het die fokus weer laat val op die noodsaak-likheid van streng beheermaatreëls en verantwoordelike brandbestuur tydens die huidige droë en winderige seisoen.
Juis om hierdie rede het Hessequa-munisipaliteit verlede Donderdag, 23 Oktober, in samewerking met verskeie rolspelers, die jaarlikse brandbewusmakingsprojek in die burgersentrum aangebied.
Die veldtog word jaarliks deur Working on Fire (WoF)-Kishugu JV gekoördineer.
Volgens Deon Stoffels, brandweerhoof van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, is meer as 90% van ongewenste brande die gevolg van menslike nalatigheid.
"Tog is nie alle brande sleg nie - onder beheerde omstandighede speel brande 'n belangrike rol in die instandhouding van ekosisteme en kan dit as 'n doeltreffende grondbestuursinstrument gebruik word," sê Stoffels.
Waardevolle inligting word tydens die veldtog aan gemeenskappe oorgedra om mites te ontbloot, negatiewe persepsies te verander en verantwoordelike gedrag te bevorder.
Vanjaar se tema, Every Day Counts - Act for Resilience Today, beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan om daagliks op te tree om gemeenskappe en ekosisteme meer veerkragtig teen brande te maak.
Verskeie belangrike vennote en belanghebbendes het die geleentheid bygewoon, waaronder verteenwoordigers van Hessequa-munisipaliteit, die burgemeester en brandweerhoof van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Southern Cape Fire Protection Association, SANParks, CapeNature, MTO, die departement van landbou, die provinsiale rampbestuur en Working on Fire (WoF)-Kishugu JV.
Regulasies vir beheerde brande
Suid-Kaap Forum het ondersoek ingestel na die regulasies rondom beheerde brande in die streek.
Volgens Luke Folb van CapeNature val die Heidelberg (Hessequa)-gebied onder die jurisdiksie van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (GRDM) en die Southern Cape Fire Protection Association (SCFPA).
Folb verduidelik dat alle inwoners, ongeag lidmaatskap by die SCFPA, aan dieselfde reëls onderhewig is.
Die hofsisteme sal hierdie riglyne toepas indien brande buite beheer raak.
Volgens Artikel 9 van die SCFPA-regulasies moet grondeienaars eers 'n brandpermit van hul plaaslike brandweer verkry voordat enige beheerde brand begin word.
Die permitte bevat spesifieke voorwaardes wat streng nagekom moet word om veilig-heid te verseker en skade te voorkom.
CapeNature waarsku teen roekelose gedrag
In 'n verklaring op 28 Oktober het CapeNature die publiek versoek om waaksaam en proaktief te bly namate die brandseisoen momentum kry.
"Die koste van 'n wegholbrand is veel groter as wat mense besef," lui die verkla-ring.
"Elke jaar bedreig veldbrande lewens, vernietig huise en beskadig ons biodiversiteit."
Tydens die 2024/25-brandseisoen het CapeNature meer as R20 miljoen aan brandonderdrukking bestee, met skade-eise wat meer as R300 miljoen beloop het.
Altesaam 97 veldbrande het oor 75 000 hektaar van die Wes-Kaap verwoes – waarvan 42% op privaat grond en 58% op CapeNature-bestuurde gebiede was.
"Wanneer 'n brand uitbreek, betaal almal die prys - of dit nou deur lewensverlies, infrastruktuur of biodiversiteit is," sê dr. Ashley Naidoo, uitvoerende hoof van CapeNature.
"Maar wanneer ons voorkom dat 'n brand begin, wen almal."
CapeNature beoog om deur die nuwe, Fire Fridays with Kai and Friends-veldtog die publiek weekliks van praktiese wenke oor brandvoorkoming te voorsien.
Beheerde brande: redes en reëls
Deon Stoffels het ook aan Suid-Kaap Forum gesê daar is verskeie redes waarom beheerde brande jaarliks gedoen word:
- Om brandrisiko te verminder
- Vir boerderydoeleindes
Hy verduidelik dat toestemming gedurende die somermaande gegee word om beheerde brande toe te pas.
Groot organisasies soos CapeNature en Natuurbewaring maak bufferstroke om gebiede teen wegholbrande te beskerm en om fauna en flora te bewaar.
Stoffels sê ook dat sterker polisiëring toegepas gaan word en dat beheerde brande voortaan slegs op geel en groen dae - wat gunstig vir veilige beheer is - toegelaat sal word.
Hy het verder benadruk dat brandpermitte net tot einde November toegestaan sal word.
Brande hou gemeenskap op hul tone
Intussen het verskeie veldbrande die afgelope week die Heidelberg-gebied geteister.
Op 21 Oktober het 'n beheerde brand noord van Heidelberg buite beheer geraak, wat onmiddellike optrede van GRDM-brandbestryders genoodsaak het.
'n Helikopter is ontplooi om die vlamme te beperk, terwyl grondspanne onder moeilike toestande gewerk het om verdere verspreiding te voorkom.
Teen 23 Oktober was 'n groter veldbrand in die omgewing steeds aktief. Danksy die GRDM, CapeNature, Working on Fire en Southern Cape Fire Protection Association (SCFPA) is alle infrastruktuur suksesvol beskerm.
'n Dag later is bevestig dat die brand rondom alle kritieke infrastruktuur onder beheer is nadat 'n 2,5 km teenbrand aan die suidwestelike grens suksesvol voltooi is.
Nog 'n veldbrand het Dinsdagmiddag, 28 Oktober, naby die Anglikaanse Kerk en Vodacom-toring in Stilbaai, naby Melkhoutfontein, ontstaan.
Danksy 'n vinnige reaksie deur die Hessequa-munisipaliteit, met bystand van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (GRDM) se brand- en reddingsdienste, is die brand vinnig onder beheer gebring.
Die GRDM het die samewerking tussen plaaslike grondeienaars, brandbestryders en die publiek geloof vir hul rol in die suksesvolle beskerming van huise, boerderye en kommunikasietorings.
Inwoners word herinner dat alle beheerde brande vooraf goedgekeur moet word en dat enige rook- of vuurwaarneming onmiddellik by die GRDM-noodsentrum gerapporteer moet word by 044 805 5071 of via WhatsApp by 081 709 5193.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
 
                 
                     
                     
                    
                    
                    
                    
                    
                 
                             
                         
                         
                 
                 
                 
                 
             
                 
                                     
                                     
                                     
                                     
                                 
                                         
                                         
                                         
                                         
                                     
                                         
                                     
                                     
                 
                         
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                