STILBAAI NUUS - Die basaarpoeding, koeke en vleis het behoorlik gevlieg met angstige kopers wat vroeg ingestroom het omdat hulle bang was dat hulle niks te koop sou kry nie.
Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum het Saterdag 29 Junie hulle jaarlikse basaar in die Stilbaai-gemeenskapsaal gehad en dit was behoorlik 'n miernes van bedrywighede.
Vrydag met die voorbereiding, kon mens sien en aanvoel dat hier iets groots kom en Skye Luus, die koördineerder van die basaar, met haar span, die bestuur en direksielede het seker gemaak dat Saterdag 'n reusesukses sou wees.
Toe die deure uiteindelik Saterdagoggend agtuur oopswaai het daar al 'n ry mense gewag. Die basaarpoeding was teen halftien alles opgeraap met die kerrie en rys kort op hulle hakke, terwyl mense hulle mandjies volgepak het. Wesstel Linström, algemene bestuurder van Jagersbosch, het rondgehardloop om seker te maak dat alles glad verloop; van vullisdromme leegmaak tot om plante vir kopers na hulle motors te dra.
Al die beskikbare tafels en stoele was vol mense wat lag en gesels en baie belangrik, elkeen het iets te ete en drinke gehad.
Buite die saal was springkastele en gesigverf vir die kinders en die reuk van braaivure het in die lug gehang.
'n Gemeenskap wat saamstaan om die lewe vir ouer persone so gemaklik moontlik te maak is 'n ware omgee-gemeenskap en die talle borge, donateurs en vrywilligers wat Jagersbosch gehelp het om hierdie basaar moontlik te maak wys net weer wat Stilbaai so spesiaal maak.
Jagersbosch bied soveel dienste aan ouer persone wat nog in hulle eie huise woon en dit is regtig voordelig om 'n lid te word.
Skakel gerus die kantoor by 028 754 1934 of besoek hulle oorkant die Fynbos-sentrum om meer uit te vind.
By die pannekoektafel kon hulle nie voorbly nie en die bakkers moes gereeld afgelos word.
Oral het mense gesit om te gesels, om te rus en om te eet.
Die saal was feestelik versier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’