STILBAAI NUUS - Badisa Stilbaai het Dinsdag 5 Augustus hulle algemene jaarvergadering gebruik om al die vrywilligers en ander helpers te bedank vir die reusewerk wat hulle die afgelope jaar verrig het.
Dr. Marietjie Strydom, voorsitter van die beheerraad, het ook van die geleentheid gebruik gemaak om hulle werksaamhede in haar jaarverslag uit te lig.
Hiermee wil hulle vir die gemeenskap wys wat die mooi is wat hulle doen.
Sy sê dat Badisa Stilbaai en Ouma Lena se Huis in Melkhoutfontein hulle visie, naamlik om mense en gemeenskappe in nood te help, volg.
Danksy Sy seën en deur die toegewyde diens van die personeel en vrywilligers is professionele en praktiese hulp aan ’n toenemende hoeveelheid gesinne en individue gelewer.
Die groter Badisa-organisasie het Badisa Stilbaai onlangs vereer met die Best practices model for community and church integrated service delivery-toekenning.
Die liefdadigheidswinkel Baaija vir Biekie se inkomste word aangewend vir die lopende uitgawes van die kantoor en maak 24% van die begroting uit.
Voorraad word deur die gemeenskap geskenk en word teen ’n geringe bedrag verkoop.
Die Sakkie vir ’n Pakkie-projek van die NG Kerk en United Church stel die kantoor in staat om maandeliks tussen 25 en 35 kospakkies aan gesinne uit te deel.
Ouma Lena se Huis huisves die Seesterretjies-kleuterskool en ’n naskoolsentrum vanaf gr. R tot gr. 7.
Daaglikse aktiwiteite word met ’n Christelike boodskap en gebed geopen.
Dienslewering deur die maatskaplike kantoor omsluit ’n verskeidenheid dienste.
Dienste sluit in:
• Ouerleiding
• Pleegkindgroepe
• Werkswinkels met pleegouers
• Impak van middelmisbruik op ouerskap
• Dienslewering aan kinders met uitreagerende gedrag
• Kinderbeskerming
• Inligtingsessies rakende regte en verantwoordelikhede
• Werkswinkels rakende lewensvaardighede vir kinders en jeugdiges
• Inligtingsessies rakende gesinsbeplanning en tienerswangerskappe
• Praatjies oor die belangrikheid van vroeë kinderontwikkeling.
Dr. Strydom het die vrywilligers bedank vir die onbaatsugtige diens wat hulle by Ouma Lena se Huis, Baaija vir Biekie en ook die Sakkie vir 'n Pakkie-projek lewer.
Sonder hierdie vrywilligers sou Badisa Stilbaai nie kon vermag wat hulle tans doen nie.
Cornelia Giliomee, maatskaplike werker, het gesê dat hulle werk en leef in ’n wonderlike gemeenskap van omgeemense en daarom is hulle so suksesvol.
Indien jy belangstel om te help of verdere inligting soek kan jy gerus die kantoor skakel by 028 754 2203 en hulle e-pos adres is badisastilbaai1@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’