Update
RIVERSDAL NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale se leerders het Saterdag 17 Januarie vir Andru van Zyl verwelkom toe hy by die skool aangedoen het as deel van sy, My Ride of Hope for the CHOC Cows-fietstoer.
Andru van Zyl, voormalige hoofseun (2025) van Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria, het van 16 Desember tot 22 Januarie met 'n fiets van Polokwane tot in Kaapstad gery om fondse in te samel vir Childhood Cancer Association of South Africa (Choc).
Die rit was 'n afstand van meer as 2 600 km.
Die inisiatief is geïnspireer deur die onlangse kankerdiagnose van 'n seun van Andru se ou skool.
Dit het hom diep geraak en hom bewus gemaak van die uitdagings wat kinders met kanker en hul gesinne daagliks in die gesig staar.
"Wanneer mense my vra waarom ek hierdie projek aanpak, was my teenvraag 'waarom nie?'. Die situasie het my erg geraak en geïnspireer om tot die daad oor te gaan."
Sy doelwit was om R500 000 in te samel ter ondersteuning van kinders wat teen kanker veg, asook vir die families wat hulle bystaan.
Hierdie mikpunt het hy al verbygesteek nog voordat hy Stilbaai op 16 Januarie bereik het.
Tot op hiérdie stadium het hy nog net een pap wiel gehad. Die weer het nie altyd saamgespeel nie en daar was tye wat hy in die reën moes ry.
Sulke goed is egter nie vir hom 'n probleem nie, maar net hobbels wat hy moet oor.
Hy sê dat hy van plan was om tent op te slaan daar waar hy moet slaap, maar langs die roete het gemeenskappe, boere en dorpe hul harte oopgemaak met verblyf, kos en ondersteuning.
Volgens Andru het hy altyd gedink dat hy te jonk is om 'n verskil te maak.
Hy het ook besef dat niemand alleen 'n reuseverskil kan maak nie.
Vir ander jongmense wil hy sê koop in by jou gemeenskap en maak saam met hulle 'n verskil.
Andru se ma, Anerett, sê hulle is baie trots op hom. Sy het aanvanklik, weens die veiligheidsrisiko, teen die idee geskop, maar nadat hulle gesels het en hy sy planne verfyn het, was hulle as ouers ook saam met hom opgewonde. Hy is 'n gedrewe jongman wat nie terugstaan vir 'n uitdaging nie.
Anerett wil ook baie dankie sê vir almal wat hom langs die pad bygestaan en ondersteun het.
Andru se mikpunt was om Kaapstad teen 22 Januarie te bereik.
Loer gerus op Lamps-on-Wheels op Facebook na foto's van Andru se fietstoer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’