Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die Aloe ferox-aalwyne wat so baldadig in die wintermaande langs ons paaie blom, is meer as net 'n versiering.
Dis 'n medisinale plant wat sedert die vroegste tye deel was van die natuur se noodhulpkissie.
Daar is vyf aalwynverwerkingsaanlegte in die Wes- en Oos-Kaap. Maar 'n mens mag nie sommer net aalwynblare gaan oes nie. Op die plase in die Wes- en Oos-Kaap word 'n kontrak met die boere gesluit en in stamgebiede moet die stamhoof toestemming verleen. Dis ook nie enigeen wat aalwynblare kan sny en tap nie. Dikwels is daar tussen 50 en 80 tappers in 'n gebied wat al geslagte lank die blare op kontrak tap. Die gesnyde blare word met die gesnyde vlak in 'n sirkel op die rand van 'n holte in die grond gepak sodat die sap uit die blare op 'n seil op die bodem tap. Dit word in kanne gegooi en saam met die blare na die verwerkingsaanleg geneem.
Ter wille van volhoubare benutting mag net die onderste, oudste blare gesny word en tussen 12 en 16 blare moet aan 'n plant agterbly. Veral in droogtetoestande is die aalwyn vir oorlewing van die sap in die blare afhanklik. As al die blare gestroop word, vrek die plant. Elke blaar lewer sowat 20 ml bitter sap wat die aktiewe bestanddeel aloin bevat. Dit word gedroog tot kristalvorm en dan tot poeier gemaal en in farmaseutiese produkte gebruik. Aloin is een van die beste aktiewe bestanddele van lakseermiddels.
Blare word na onttrekking van die sap ook verwerk en gedroog tot blaarpoeier, wat hoofsaaklik aan die voedselbedryf gelewer word. Dit word met die hand afgeskil om die fillet, die wit binnekant van die blaar, bloot te lê. Van die gel, net soos die sap sonder die bitter bestanddeel van die heel blaar, word ook in die vervaardiging van gesondheidsdrankies en kosmetiese produkte gebruik. Die fillet of gel word in die kosmetiese bedryf gebruik.
Kyk 'n video hieronder:
Tot sowat 97% van die aalwynprodukte, wat die bitter poeier, gel en sap insluit, word na Europa, die VSA en die Ooste uitgevoer.
Aalwyne wat in die natuur voorkom, voldoen aan kopers en verbruikers se toenemende vereiste dat die produk as organies geregistreer moet wees. Baie van die plase wat aalwyn lewer word jaarliks geoudit ten einde die koper tevrede te stel.
Elke rolspeler in die bedryf moet ook 'n heffing aan die biodiversiteitsprogram betaal en oor 'n biodiversiteitspermit beskik voor dit uitgevoer mag word. Die doel van die heffing, wat internasionaal van krag is, is om tradisionele kennis van inheemse gemeenskappe te beskerm.
Lees 'n vorige artikel hier: Aalwyn, die natuur se noodhulpkissie
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'