Gallery Update Video
ALBERTINIA NUUS EN VIDEO - Beswaarde inwoners van die dorp het Vrydag 2 Augustus om 15:00 in groot getalle die strate van Theronsville ingevaar om te wys hulle is keelvol vir die toename in dwelmhandel op die dorp.
Sowat 100 volwassenes en kinders het aan 'n vreedsame optog met plakkate wat hul frustrasie uitbeeld vanaf die gemeenskapsentrum deur die strate gestap.
Volgens 'n versoekskrif wat in die dorp versprei is, verklaar die inwoners oorlog teen dwelmkoeriers wat dwelms die dorp insmokkel en aan dwelmhandelaars verskaf. Die versoekskrif verklaar dat inwoners geen dwelms in hul dorp sal duld nie, dat die lewens van hul kinders kosbaar is, dat dwelmhandelaars nie in die dorp welkom is nie en dat elke huis wat dwelms verkoop summier toegemaak sal word. "Albertinia verklaar genoeg is genoeg."
Volgens mnr. Koos Tarantal, hoof van Oker Primêr, het die ouers en ander inwoners die Albertinia-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), waarvan hy voorsitter is, genader om 'n aksie teen dwelms te begin. "Die ouers voel die toenemende dwelmprobleem benadeel hul skoolgaande kinders en hulle wil hê ons moet hul kinders tot ander insigte bring."
Kyk 'n video hieronder:
Mary Julies, ondervoorsitter van die GPF, sê die gemeenskap is bekommerd oor die verval wat dwelms onder die jeug teweegbring. "Ons as dorp is baie betrokke by ons kinders en wil hulle teen hierdie bedreigings beskerm. Die optog was 'n misdaadvoorkomingsaksie."
Ciska Badenhorst, die polisie se skakelbeampte, sê die grootste probleem is deesdae dat kinders van tussen agt en 18 as dwelmkoeriers gebruik word wat dwelms van elders af die dorp insmokkel en versprei.
"Die ouers is siek en sat vir dwelms - kinders wat vorentoe wil gaan is net so keelvol. Hulle wil hê die dwelms wat die dorp instroom, moet stop. Hulle wil hê die oortreders moet groter vonnisse opgelê word sodat hulle van die straat af kan verdwyn."
Onlangs het reservis-konstabel Janine Jantjies die 24-jarige Elna Heskwa van die dorp met 100 Mandrax-tablette in haar besit betrap. "Haar vonnis van vyf jaar vir handel in dwelms en nog drie jaar vir die koerier van dwelms, behoort 'n sterk boodskap uit te dra."
Lees 'n vorige artikel hier: Albertinia staan op teen dwelms
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'