ALBERTINIA NUUS - Rising Star Youth, onder die leierskap van Marilyn Fillies, het Donderdag 19 Junie 'n vreedsame optog vanaf die Theronsville-gemeenskapsaal tot by die hofgebou gehou om memorandums aan die Albertinia-polisie en departement van justisie te oorhandig.
Die gemeenskap van Albertinia is moeg vir die fisiese, seksuele en emosionele mishandeling van kinders, gesins- en geslagsgebaseerde geweld, seksuele aanranding en verkragting, asook dwelmhandel en middelmisbruik, veral onder die jeug.
Die polisie, Hessequa-wetstoepassers, ander nooddienste en rolspelers het ook by die optog aangesluit en die boodskap was baie duidelik: "Genoeg is genoeg."
By die hofgebou aangekom het Ivan Mangaliso, Hessequa-raadslid en gemeen-
skapsleier, die memorandums voorgelees waarna kaptein Karel Barnard, stasiebevelvoerder van Albertinia-polisie, die memorandum ontvang het.
Curtis Engel, kantoorhoof van die departement van justisie in Albertinia, het justisie se memorandum in ontvangs geneem.
Memorandum aan polisie
In die memorandum aan die polisie sê die jeug dat daar gebrekkige optrede teen herhaalde geweld en dwelmsake is, onverklaarde vertragings in ondersoeke, gebrek aan samewerking met jeug- en gemeenskapsorganisasies, onvoldoende teenwoordigheid van die polisie in woongebiede en naby skole asook 'n voortdurende gevoel van onverskilligheid teenoor jong slagoffers.
Hulle versoek dat 'n toegewyde jeug- en gemeenskapskakelbeampte aangestel word.
Dat daar verskerpte patrollies rondom skole en hoërisiko-gebiede moet wees, asook 'n SAPD-inisiatief om gereeld met jongmense in gesprek te tree, ondersteuning van jeuginisiatiewe teen geweld, misdaad en dwelms te gee, asook prioritisering van sake rakende geweld teen kinders en jong vroue.
Memorandum aan justisie
In die memorandum aan justisie sê die jeug daar is 'n sistematiese afgradering of verwerping van ernstige misdade, vertraagde regsprosesse, onvoldoende slagofferondersteuning in howe, gebrek aan kommunikasie en terugvoer asook gebrek aan aanspreeklikheid.
Hulle versoek dat bogenoemde misdade as prioriteit behandel word, die oprigting van 'n slagofferhulp- en skakelpunt by die hof, gereelde gemeenskapsdialoog en verslagdoening, hersiening van verwaarloosde of afgekeurde sake asook die versterking van samewerking tussen die regbank, polisie en burgerlike organisasies.
Met beide memorandums versoek die jeug binne 14 werksdae skriftelike terugvoer, sowel as 'n uitnodiging tot gesprek met 'n afvaardiging van gemeenskapslede.
Die gemeenskap sê: "Geregtigheid wat vertraag word, is geregtigheid wat geweier word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’