RIVERSDAL NUUS - AfriKaap Radio het met die, Tour My Province-inisiatief, die afgelope naweek die pragtige Hessequa-streek besoek, met Riversdal as hul hoofbestemming.
Die AfriKaap-span, bestaande uit vyf aanbieders - Elzette Esua, Shani Pietersen, Eleanor Williams, Janine Liedeman en Renée Schrikker - saam met tegniese direkteur Sebastian Petersen, het die streek besoek met die doel om kleiner dorpe se mense, geskiedenis en unieke karakter aan die breër publiek bekend te stel.
Volgens die span word kleiner dorpe soos Riversdal dikwels misgekyk wanneer mense deur die streek reis, maar hierdie besoek het gewys dat daar 'n rykdom van erfenis, vriendelikheid en kultuur in die hart van Hessequa skuil.
Tydens hul verblyf het die span die geleentheid gehad om plaaslike inwoners te ontmoet en meer te leer oor die dorp se geskiedenis en tradisies.
'n Hoogtepunt van die besoek was 'n buiteluguitsending wat by die Ou tronk gehou is, waar die span deur plaaslike vertellers op 'n reis deur die dorp se verlede geneem is.
Gemeenskapsradio
Die besoek het ook samewerking tussen die AfriKaap-span en Hessequa FM ingesluit - 'n inspirerende ontmoeting wat die belang van gemeenskapsradio en plaaslike betrokkenheid onderstreep het.
Die ondersteuning van die burgemeester, uitvoerende span en toerisme het verder bewys gelewer van die dorp se warm gees en trots in sy mense.
As deel van hul verbintenis aan gemeen-skapsontwikkeling het die AfriKaap-span aangekondig dat hulle in die nuwe jaar na Hessequa sal terugkeer om 'n week lange radio-opleiding vir matrikulante aan te bied.
Die projek beoog om jongmense op te lei in aanbieding, radiobestuur en bemarking, sodat hulle hul eie gemeenskappe kan bemagtig.
Die besoek is afgesluit met 'n diens by 'n plaaslike AGS en 'n gesellige tuisgemaakte maaltyd saam met inwoners - 'n ervaring wat volgens die span die ware betekenis van gasvryheid vasvang.
"Dorpies soos Riversdal is meer as net plekke om verby te ry - dit is juwele wat wag om ontdek te word," sê Esua. "Ons sê altyd: moenie net verbyry nie - draai links in en ontdek die skatte van ons eie land."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’