HESSEQUA NUUS - AfriForum se jeugtak in Hessequa het onlangs twee baie suksesvolle skoonmaakprojekte van stapel gestuur waartydens hulle sowat 45 sakke vullis verwyder het.
Die jeugtak het, in samewerking met AfriForum se Riversdal-buurtwag, dié dorp se strate ingevaar en in Hoof- en Kerkstraat verskeie sakke vullis opgetel voordat hulle na die treinspoor verskuif en daar verder skoongemaak het.
’n Week later het die jeugtak in Albertinia se Hoof-, Stasie- en Kerkstraat skoongemaak. Hierdie aksie het in samewerking met AfriForum se Albertinia-plaaswag, die Albertinia-gemeenskapspolisiëringsforum en gemeenskapslede plaasgevind.
Die 45 sakke vullis wat verwyder is, het hoofsaaklik uit lekkergoedpapiere, leë wegneemkoshouers en plastiekbottels bestaan. Verskeie gevaarlike glasstukke en gebreekte bottels is ook opgetel, sowel as ander skerp voorwerpe.
Ian Grobbelaar, voorsitter van AfriForum Jeug se Hessequa-tak, sê dit is skrikwekkend om te sien hoeveel rommel gestrooi word. “Ons is trots op ons dorpe en sal aanhou om aksies soos hierdie te begin om ’n skoner en veiliger omgewing vir almal te skep,” aldus Grobbelaar. “Selfs net ’n paar sakke vullis wat opgetel word, maak alreeds ’n groot verskil. Ons moedig graag die jeug van die onderskeie dorpe aan om eienaarskap van hul omgewings te neem en hierdie voorbeeld te volg.”
Die jeugtak beplan ook om binnekort ’n opvolgprojek in Heidelberg te hou en ook daar vullis op te tel. AfriForum Jeug streef daarna om jongmense te inspireer om hulself en hul gemeenskappe op te hef.Raak vandag nog betrokke by AfriForum Jeug en maak ’n verskil in jou dorp.
Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of bel hom by 081 216 9602.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’