RIVERSDAL NUUS - ’n Toename in ernstige aanrandings en dwelmsake in verskeie Riversdal-woonbuurte laat die plaaslike polisie bekommerd.
Volgens ao. Hans Busch, sektorbevelvoerder vir sektor 1 wat die gebiede Riverville, Aloeridge, Môrestond, Beverly Hills, Panorama Uitbreiding en Melrose Place insluit, is die situasie besig om uiters onveilig te raak.
“Die meeste van hierdie aanvalle vind snags in donker gebiede plaas, wat dit vir slagoffers bykans onmoontlik maak om die aanvallers te identifiseer,” sê Busch.
“Hierdie voorvalle gee die stasiegebied ’n negatiewe beeld en laat dit lyk asof dit nie ’n vriendelike of veilige omgewing is nie.”
Busch maan inwoners om self verantwoordelikheid vir hul veiligheid te neem deur nie doelloos in die strate rond te beweeg nie, maar eerder tuis of by betroubare vriende te kuier en daar oor te slaap.
Hy noem ook dat dwelmsake besig is om toe te neem, aangesien gebruikers se behoeftes vervul word deur mense in te wag, te beroof en soms aan te rand.
“Dwelmverslawing dryf ander misdade aan - dit is ’n bose kringloop.”
Adjudant-offisier Busch spreek sy teleurstelling uit teenoor ouers wat hul kop in die sand steek wanneer dit kom by hul kinders se betrokkenheid by misdaad.
“Wanneer ouers die polisie uitskel en hulself distansieer van hul kinders se gedrag, moet hulle onthou dat hulle daardie selfde polisie nodig gaan kry as dinge hand uit ruk.”
Hy sluit af deur te sê: “Gehoorsame burgers - jonk én oud - dra by tot ’n vreedsame en veilige gemeenskap.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’