RIVERSDAL NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale spog met 'n uitsonderlike prestasie nadat ses rugbyspelers en 'n onderwyser onlangs vir die SA o. 18-rugbyspanne gekies is.
Die spelers wat vir die land op die veld gaan uitdraf, is Kai Pratt, Jacobus de Villiers, Christian Vorster, Liam Lightley, Reinhart Viljoen en Diaan Augustyn.
Malan du Plessis, Oakdale-afrigter en voormalige Springbok-sewesspeler, sê: "Die Bulle maak die skool ongelooflik trots.
Om ses spelers op nasionale vlak te hê, oortref alle verwagtinge. Hierdie eer kom nie oornag nie - dit verg ure se harde oefening, toewyding, vroeg opstaan en selfs vakansies opoffer."
Die ses spelers gaan ongelukkig nie die komende naweek aan die interskole deelneem nie, maar Du Plessis sê dat hulle prestasie ander spelers die kans gee om hul staal te wys.
Daarby is Adriaan Jansen, Oakdale-onderwyser, gekies as die fiksheidsdeskundige van die SA o. 18-span.
"Vir enige jong rugbyspeler is dit 'n droom om eendag die Springboktrui aan te trek. Hierdie seuns het gewys dat dit moontlik is deur harde werk en deursettingsvermoë," sê Du Plessis.
Kai Pratt gaan na afloop van sy akademiese jaar vir die Sharks speel en sy kontrak is reeds in plek.
Die skoolhoof, Willem du Buisson sê: "Die Oakdale-gemeenskap is baie trots op hierdie ses seuns se verkiesing tot die SA o. 18-groep.
Hierdie ses seuns is pragtige en nederige manne wat elke dag nie net hul kant bring op die veld nie, maar ook in die klaskamer.
Verskeie Oakdale-afrigters het oor die jare aan hulle geslyp tot die puik rugbyspelers wat hulle vandag is. Hierdie afrigters verdien ook 'n applous.
Hierdie ses manne dien ook as inspirasie vir die jonger seuns in die skool. Hulle sien dat harde werk beloon word.
Elke Oakdale-rugbyspeler weet dat sukses moontlik is vir enige persoon wat bereid is om hard te werk daarvoor."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’