HESSEQUA NUUS - “Daar is sommige raadslede in hierdie raad wat nie ’n sent werd is nie, maar slegs goed daarin is om elke 25ste van elke maand hul selfone se SMS’e te hoor afgaan, om onmiddellik die ATM te gaan besoek.”
Só beweer die ANC-raadslid Christopher Taute, ‘n voormalige burgemeester van dié munisipaliteit en raadslid van wyk agt. Hy het ook ‘n setel in die Garden Route-distriksmunisipaliteit.
Sy bewerings volg ná president Cyril Ramaphosa aan al 237 munisipaliteite in die land ‘n salarisverhoging van drie persent aan raadslede toegeken het.
Dit is die eerste opwaartse aanpassing in twee jaar.
Ander amptenare en munisipale werkers kry ‘n verhoging van ses persent.
Taute het tydens die spesiale raadsvergadering op 22 Oktober ongegronde bewerings oor ‘n begrotingstekort gemaak en “nederig” aanbeveel dat die astronomiese gaping tussen voltydse en deeltydse raadslede verklein moet word deur geen verhogings aan die voltydse raadslede toe te ken nie en dat die toelaes aan alle raadslede dieselfde moet wees.
Hy het ook gesê: “Hierdie raad is baie gou om ’n spesiale raadsvergadering te reël wanneer hul hulself daardeur kan bevoordeel. In hierdie geval met salarisverhogings. Dit terwyl inwoners van wie die armste van die armes in ons wyke reeds vir maande wag net om hul deernishulp goedgekeur te kry. Is dit die ‘omgee’ waarvan hierdie DA-administrasie praat? Dus: ‘omgee’ slegs vir die wie ryk is en trap op dié wat arm is en swaarkry? Ons families in ons arm wyke kripeer onder die swaarkry van astronomiese tariewe wat deur hierdie DA-administrasie teenoor hulle gehef word. Snaaks genoeg hoor ek nie een keer dat hierdie voltydse DA-raadslede opstaan vir ons arm mense nie, maar hulle huppel en spring om hulself te bevoordeel.”
Sy bewerings het ‘n heftige debat ontketen. Dit is ook op ‘n sosiale blad op Facebook uitgeblaker.
Die sestien raadslede voel gekrenk.
“Raadslid Taute se beswaar was hoofsaaklik op die burgemeester en sy uitvoerende raadslede gemik. Toe hy ‘n teenvoorstel maak, wou sy eie ANC-koukus nie eens sy voorstel sekondeer nie. Dit wys jou net wat hulle van hom dink. Die DA-voorstel is eenparig aanvaar.
Burgemeester Riddles het volgens ons almal die debat loshande gewen. Hy het aan Taute genoem dat dit sy eie skuld is dat sy wyk se mense die armste is, want wat het hy dan sedert die laat 1990 's, toe hy burgemeester was, gedoen om sy wyk se mense op te lig?” meen raadslid Johannes Hartnick van die Vryheidsfront Plus.
Raadslid Ivan Mangalsio van die Patriotiese Alliansie sê: “Raadslid Christopher Taute dien die langste van almal in die raad. Hy is passievol oor sy wyk en die mense vertrou hom. Maar hy moet kan aandui wie die raadslede is na wie hy verwys. Ek weet, as verteenwoordiger van die PA en voorsitter van die oorsigkomitee van die raad is, kom ek my verpligtinge na. Die raad het nie die verhoging voorgestel nie. Dit word deur die president bepaal. Jy kan politieke kommentaar daarop lewer, maar jy kan dit nie weier nie. Dit word aan jou gegee. Die feit dat die raad dit aanvaar, is egter nie ‘n refleksie op sy vermoë of onvermoë om die gemeenskap te dien nie.”
Msindo Elias Dayimani, die ANC se hoofsweep, het só op Suid-Kaap Forum se versoek om kommentaar gereageer: “I’m not taking orders from you.”
Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, het die verhogings aan die raad op 30 Oktober bevestig.
Die jaarlikse salarisse lyk nou só:
Uitvoerende burgermeester: R 1 018 649
Onder-burgemeester: R824 357
Speaker: R824 357
Uitvoerende burgemeesterkomiteelede: R774 879
Deeltydse voorsittende raadslede: R441 634
Deeltydse raadslede: R354 498
Al die salarispakkette sluit ‘n selfoon-datatoelaag van R47 004 per jaar in.
Net heeltydse raadslede het toegewyde portefeuljes waarna hulle moet bestuur.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’