SUID-KAAP NUUS - Dr. André Hattingh, 'n afgetrede neurochirurg en stigter van Pediatric Care Africa, en sy vrou, Joyce Crompvoets, het besluit om die Klein-Karoo hul nuwe tuiste te maak en het drie weke gelede wortels in De Rust neergelê.
Hattingh het in 2017 die nie-winsgewende organisasie, Pediatric Care Africa, gestig en hoop om ook hier in die Karoo 'n verskil in kinders se lewens te maak.
Hy het verlede jaar 'n motorfietstoer van 7 000 km afgelê om geld in te samel vir kinders wat mediese sorg en operasies nodig het, maar die jaar saal hy 'n perd van 'n ander kleur op.
Die plan is om oor 21 dae 3 500 km op 'n trekker te ry vir liefdadigheid. Die rit begin Sondag 21 Julie tot Sondag 11 Augustus en begin en eindig in Nelspruit.
"Ek gaan poog om 'n wêreldrekord te breek! Die doel van die rit is om internasionale aandag te vestig op die uiters hoë aantal grusame plaasmoorde elke jaar in Suid-Afrika, aangesien die hele boerderygemeenskap in Suid-Afrika geraak word en ons boere beskerm moet word.
"Tweedens, om fondse in te samel vir behoeftige kinders wat groter en meer ingewikkelde operasies benodig en ook om bewustheid te skep oor die skokkende vlakke van geweld wat steeds kinders se lewens regoor Suid-Afrika vernietig, met 285 kinders wat vermoor is en 2 707 kinders wat tussen Oktober en Desember 2023 onderworpe was aan poging tot moord en of aanranding oorleef het."
Hierdie buitengewone lang trekkerrit gaan plaasvind sonder 'n ondersteuningsvoertuig soos in die verlede, om aan die wêreldrekord vereistes te voldoen.
"Ons rekordpoging sal by RecordSetters in die VSA ingedien word vir evaluering en indien dit aanvaar word, sal hulle aan ons 'n amptelike wêreldrekordsertifikaat uitreik. Diegene wat korter ente wil saamry is welkom, maar geen meganiese of fisiese hulp mag verleen word nie."
Meer oor die stigting
Hattingh verduidelik dat die stigting aan vyf programme werk.
"Die eerste een is die 1 000 operasies vir 1 000 kinders wat ons oor 15 jaar wil voltooi. Die tweede is die kliniese mediese program waar ons siek kinders na privaat dokters en spesialiste neem en seker maak dat hulle hul nodige medikasie, X-strale of ander mediese sorg kry.
"Ons derde program is mediese uitreike waartydens vrywillige dokters, verpleegpersoneel, oudioloë en tandartse informele nedersettings of instansies besoek en ons tussen 50 tot 350 kinders op 'n slag behandel. Die voedingsprogram is op kinders en babas gemik om te verhoed dat kinders weens wanvoeding nie ontwikkel nie.
"Einde ten laaste lewer ons ook dienste aan rampgeteisterde gebiede in Suid-Afrika."
Volgens hom het sy passie om kinders te help begin na hy as jong dokter in beseerde kinders in 'n Afrika land gehelp het.
"Toe ek besluit dat my tyd as neurochirurg afgehandel is, het ek Pediatric Care Africa begin. Tot op hede het ek 12 hospitale en klinieke ontwerp en kon sewe hospitale bou," vertel hy.
Dr. André Hattingh by die trekker waarmee hy die 3 500 km gaan aflê. Foto verskaf
Hoe kan jy betrokke raak:
- Borg Hattingh per kilometer
- Maak 'n eenmalige of 'n maandelikse skenking
- Skenk diesel vir die trekkerrit
- Word 'n vrywilliger by Pediatric Care Africa (Hier nooi Hattingh spesifiek ook dokters en ander medici om vrywillige dienste te lewer).
- Help met ander skenkings soos kos, baba-/kinderklere en doeke.
Vir verdere inligting besoek die webwerf of kontak hulle by on-trac-tor@pediatriccareafrica.org of 076 229 5663.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’