GEORGE NUUS - Die 2021 George-landbouskou wat van 26 tot 28 Augustus sou plaasvind, is gekanselleer.
Dié aankondiging is gemaak in 'n mediaverklaring op Maandag 19 April waarin skoupresident, Corné Botha, sê dit is met groot hartseer dat hierdie stap geneem word, maar die deurlopende beperkings op sosiale byeenkomste weens Covid-19-maatreëls maak dit onmoontlik om dit aan te bied.
Dit sou die 160ste skou gewees het, wat nou uitgestel is na Augustus 2022.
"Die skouraad voel die veiligheid van ons ondersteuners en uitstallers is eerste prioriteit. Ons bly dankbaar vir Georgiete se onbaatsugtige ondersteuning en sien uit na groot dinge vir 2022," het Botha gesê.
Volgens visepresident, Christo Fourie, sal die aantal besoekers wat per keer op die terrein toegelaat kan word, nie die stalletjiehouers se fooie regverdig nie. "Hulle sal nie hulle geld terugkry nie. Daar is ook kommer onder ons borge oor die onsekerheid rondom Covid-19, daarom die besluit."
Jersey nasionale kampioenskappe
Die George-landbouskou is gekies om die 2021 Jersey nasionale kampioenskappe vanjaar by die skou aan te bied en dit gaan wel voort. Dit sal plaasvind van Dinsdag tot Donderdag, 24 tot 26 Augustus. 'n Jeugskou en vers- en bulveiling sal deel vorm van die program.
Toegang vir die publiek sal gratis wees. "Dit gaan 'n groot en spoggerige geleentheid wees waarna ons baie uitsien," het Fourie gesê.
Opelugkonserte
Twee opelugmusiekkonserte op die ovaalbaan volg die naweek ná die kampioenskappe met Early B op Vrydagaand 27 Augustus op die verhoog en Appel wat die Saterdagaand sal optree.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'