Update
VERMAAKLIKHEID NUUS - Die feesseisoen het vir inwoners van die Hessequa-streek nie goed begin nie.
Inwoners van die klein dorpie Vermaaklikheid, 'n entjie uit Riversdal is Sondagmiddag, 12 Desember erg geskok met die verdrinking van 'n vyfjarige kleuter en sy stiefpa na hulle vroeër die middag in die rivier gaan swem het.
Die twee, Leonardo Coller (18) en sy stiefseun, Vihaydon Arendse (5) het kort na 14:00 besluit om in die nabygeleë Duivenhoksrivier by 'n kol in die rivier, bekend as The Magic lafenis te gaan soek van die hitte. Teen 18:00 die middag het 'n familielid bekommerd geraak omdat die twee nog nie terug is nie en het hy na die jetty gegaan, waar hy op die rivierwal op hul klere afgekom het.
Hy het alarm gemaak toe hy geen teken van die twee sien nie. Riversdal-polisie, polisieduikers en ander rolspelers is in kennis gestel om die soektog na hulle te loods.
Die familielid wat eerste na hulle gaan soek het, het ook met 'n kanoe die rivier ingevaar om te help soek. Teen 20:15 is die liggaam van Arendse tussen riete, nie baie ver van die jetty af nie, gevind. Daar was egter geen teken van Coller nie. Die soektog is later die aand tot die volgende oggend afgelas. Volgens sers Christiaan Jansen, Riversdal-polisie se kommunikasiebeampte, is Coller se liggaam ongeveer 10:30 Maandagoggend gevind.
"Die polisieduikers het hom tussen die riete, nie baie ver van waar sy stiefseun gevind is, gekry."
Vihaydon se ma, Celeste Arendse, het hartseer aan Suid-Kaap Forum vertel dat Vihaydon 'n baie liefdevol kind was. Volgens haar het hy 'n sewejarige broer en hy laat ook sy biologiese pa agter.
Sy het snikkend bygevoeg dat sy boonop vier maande swanger is met Coller se eerste kind.
Coller laat sy ma, Petronella Coller en sy pa, Hendrik Griffiths agter.
Leonardo Coller
Vihaydon Arendse
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Vermaaklikheid, Hessequa nuus'