RIVERSDAL NUUS - Die Riversdal-polisie waarsku inwoners dat die seisoen van inbrake en diefstalle aangebreek het, met 'n skerp toename in voorvalle waar motorbatterye en klanktoestelle uit voertuie gesteel word.
Volgens sers. Chris Jansen, Riversdal-polisiewoordvoerder, is daar ook 'n groeiende bekommernis oor aanlyn skemas waar inwoners goedere aankoop sonder om dit vooraf te sien.
"Ons ontvang daagliks klagtes van mense wat duisende rande op hierdie wyse verloor. Die realiteit is dat die polisie min kan doen om die geld terug te kry.
Ons waarsku dus: moenie koop wat jy nie voor jou kan sien nie," het Jansen beklemtoon.
Benewens diefstal en bedrog word inwoners ook gewaarsku teen rooftogte in die vroeë oggendure en in die aand.
Werkers wat alleen in donker, afgeleë gebiede beweeg, word dikwels geteiken, beroof en selfs aanrand.
Jansen beveel aan dat inwoners eerder in groepe beweeg, verligte paaie gebruik en altyd bewus bly van hul omgewing.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’