LEEFSTYLNUUS - Die immergroen en gewilde stapgroep, die Vuurtoring-na-Vuurtoring Vroue, ook bekend as die Lighthouse2Lightouse Ladies, het sopas ‘n reusemylpaal bereik toe hulle vir die 21ste jaar hul voetslaanroete van die vuurtoring op Afrika se suidelikste punt tot by die Danger Point-vuurtoring op Gansbaai aangedurf het.
Hulle doen die roete van sowat 100 km in vier skofte en oornag by Die Damme.
Die staptog is nie speletjies nie en jy moet fiks wees, vertel Ronel van Zyl, wat vir jare lank voorsitter was.
Die groep is in Hermanus gesetel en die huidige voorsitters is Tamara Stofberg en Jennie Vorster.
Van Zyl, ‘n afgetrede arbeidsterapeut, sê elk van die 86 vroue het R3 000 betaal om deel te neem aan die trek. “Ons is ‘n nie-winsgewende organisasie en samel fondse in vir liefdadigheid soos dieresorg, die Hermanus Senior Sentrum en Silwerjare."
Hospice is ook ‘n gereelde begunstigde - een van meer as 30 instansies wat elke jaar hulp van die vroue ontvang.
Die 86 vroue gestewel en gespoor vir die groot stap.
Sedert die aanvang van hul ekspedisies 21 jaar gelede, het hulle reeds die verstommende bedrag van R9,6 miljoen ingesamel, vertel Ronel met trots.
"Elke vrou wat jy hier sien is ‘n ligstraal en fondsinsamelaar. Elkeen het haar eie netwerk en samel ook op haar eie geld in. Ons lê tot 18 kilometer per dag af en dra ons eie water, koeldrank en kougoed saam.
Die terrein is die grootste uitdaging, want ons roete strek oor sanduine, fynbos en rotsagtige strande. Maar ons doen dit blymoedig en nie net vir onsself nie, maar vir hulpbehoewendes."
Ronel het die plaaslike polisie geloof wat toesien dat hul veiligheid deurentyd gewaarborg is.
Die sprankelende Meraai du Toit van Suiderstrand het seker gemaak die stappers smul aan die eetgoed.
‘n Mondigwording is ‘n groot geleentheid, en met hul aankoms op Suiderstrand om die roete aan te pak, het Alphia Schutte, bekende Suidpunter, oudergewoonte haar huis oopgegooi vir die stappers en eet-en drinkgoed voorgesit - voorberei deur Meraai du Toit, dr. Marjo Meyer en Marion Verbrugge, wêreldbekende musikant.
Laasgenoemde twee dames is van Nederland en het ook soos vele ander verlief geraak op Suiderstrand.
Schutte vertel dat haar pad die eerste keer met die vuurtoringvroue gekruis het toe hulle ‘n jaar of wat gelede teen die reën in haar waenhuis kom skuiling soek het. "My hart het uitgegaan na hulle en sedertdien staan ons huis oop vir hulle met die Suidpunt-wegspring."
Gasvrou Alphia Schutte en gasspreker Jeremy Mann by Chez Schutte in Suiderstrand.
Schutte is getroud met Danie Schutte, voormalige minister van binnelandse sake.
Die groep is met hul aankoms deur Jeremy Mann, stigter van die weeklikse Suidpunt Jakkalsdraf (parkrun), vergas met verskeie staaltjies.
Mann en sy vrou Marlene se verbintenis met die Suidpunt strek oor 26 jaar en niemand kon die vroue meer vertel van die geskiedenis en besienswaardighede wat die dapper stappers op hul roete sou aantref nie.
Met die ondersteuning van staatmakers soos Schutte en haar span, is die Voorslag Vuurtoring-Vrouens se toekoms vir die volgende 21 jaar gewaarborg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’