EDUCATION NEWS - Dr Cecilia Klopper van CURAparent, ‘n onderwyskundige en medewerker van Afrikaans.com en ontwikkelaar van Afrikaans.com se matriekklaskamer, gee in hierdie artikel nuttige riglyne en wenke om eksamenvoorbereiding en -stres ore aan te sit.
Ons wou weet wat ouers kan doen om hulle kinders in die voorbereiding vir eksamen te ondersteun.
Dr Klopper sê dat ‘n rustige leerklimaat by die huis nou die belangrikste is en kinders moet ‘n stil plek hê waar hulle ongestoord kan studeer. Sy beveel ook aan dat ouers riglyne en hulpbronne vir alle vakke aankoop, want dit sal hulle insig gee in die kurrikulum. Sy beveel Die 3-in-1- Vraag-en-Antwoord-reeks aan. Daar is ook heelwat gratis hulpbronne op Afrikaans.com en die internet beskikbaar.
Nog riglyne:
- Laai vir hulle vraestelle met memoranda van die laaste drie jaar af in al hulle vakke. Dit gee hulle ’n geweldige voorsprong.
- Hou maar ’n ogie dat hulle genoeg slaap en gesonde kos uit al vyf die voedselgroepe inkry.
- Dit is ook nodig dat leerders genoeg moet ontspan en oefen.
- Gee vitamienaanvullings as jy sien jou kind het min energie.
- Identifiseer angs en depressie betyds en doen iets daaromtrent. Gewone asemhalingsoefeninge help ook vir die angstige oomblikke - 5 asemteue deur die neus wat vir 5 tellings ingehou word en dan by die mond uitgeblaas word. Herhaal ‘n paar keer totdat jy kalmer voel.
- Indien daar iets is wat jou kind pla, soos ’n probleem by die huis of ’n verhoudingsprobleem, ondersteun hom deur met hom daaroor te gesels. Daarna moet hy dit op ’n papier skryf en dit in ’n laai “parkeer” tot na die vraestel. Dan kan hy dit weer hanteer.
- Jou kind kan nie sy beste lewer as sy gemoedstoestand nie reg is nie. Ernstiger angs en depressie moet natuurlik op ’n deurlopende basis behandel word sodat dit nie tydens die ekstra spanning van die eksamen die kind se konsentrasievermoë benadeel nie.
- Indien leerders enigsins probleme ondervind met skoolwerk, reël onmiddellik ekstra akademiese hulp.
Wanneer moet voorbereiding vir die eindeksamen begin?
- As jy die nuwe jaar in Januarie aanpak, moet jy vooruit beplan en op dag EEN jou werk begin organiseer en daagliks in klein porsies bemeester.
- Die jaar gaan ongelooflik vinnig verby, aangesien jy eintlik al teen 1 Augustus al jou werk moet ken.
- Moenie uitstel nie.
- Sorg dat jou ouers weet waar jy staan met jou kennis. Stel hulle dadelik in kennis as jy ekstra hulp benodig veral in vakke soos Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde.
Beplanning is noodsaaklik
Graad 12-leerders moet hul akademiese voorbereiding goed beplan. Begin sommer dadelik en druk of koop ’n jaarplan wat in dae/maande ingedeel is.
Plak dit iewers op sodat jy met een oogopslag die hele maand/kwartaal se aktiwiteite kan sien.
Skryf nou alle belangrike datums daarop. Dit sluit in: Toetse, eksamens, sperdatums, toere, partytjies, kerk asook buitemuurse oefeninge, wedstryde en kampe.
Beplan nou jou studierooster om jou belangrike datums sodat jy genoeg tyd het om al jou werk te leer.
Organiseer jou los blaaie in afsonderlike lêers – een vir elke vak.
Hou alle notas en opsommings bymekaar.
Laai vraestelle van die laaste drie jaar af, beantwoord dit en vergelyk jou antwoorde met die memorandums op dieselfde webtuistes. Dit is gratis.
Hier is nuttige webtuistes:
Jy kan ook bloot ’n spesifieke vraestel en memorandum op die internet soek, bv. graad 12, Afrikaans huistaal, vraestel 1, November 2022. Daar behoort verskeie opsies van verskaffers te wees. Dit is gratis aflaaibaar.
Beantwoord die vraestelle en vergelyk die memorandums met jou antwoorde. Kyk wat het jy verkeerd gedoen en leer so uit jou foute.
Dit is baie belangrik dat jy sien HOE die vrae gestel word en wat die eksaminator as antwoord verwag.
Kyk ook na die puntetellings. Daar behoort twee – drie stelle vraestelle vir elke jaar te wees – Mei/Junie, wat die aanvullingseksamens is, asook dan die rekord- en eindeksamenvraestelle in November.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’