TUINROETE | HESSEQUA | KAROO NUUS - Mens hoef nie 'n kundige in geestesgesondheid te wees om te besef dat mense toenemend in emosionele nood verkeer nie. Saam met die normale faktore wat emosionele welstand beïnvloed, het Covid-19 beslis addisionele uitdagings meegebring.
Diegene wat egter 'n kursus in narratiewe terapie deurloop het, meen dat hulle beslis verligting hiervoor kan bring.
Sedert hulle eerste inname in 2016, het die Caritas-sorgsentrum 154 studente opgelei in pastorale narratiewe terapie. Hoewel nie almal hulleself uiteindelik as terapeute sou wou uitgee nie, bied die studie van hierdie terapeutiese tegniek verryking vir gesinne en organisasies wat van onskatbare waarde kan wees, aldus dosent dr André Botha.
Sy visie is dat daar plaaslik deur narratiewe terapie 'n groter omgeekultuur geskep moet word, gemik daarop om 'n diens te lewer binne die gemeenskap, wat in baie gevalle onbekostigbaar sou kon wees.
Jou storie
Hy verduidelik dat elke mens terwyl hy of sy leef, bou aan 'n storie, 'n verhaal wat uiteindelik aan hulle dikteer wie hulle is.
"Hierdie verhaal ontwikkel later 'n eie stem wat mense baie skade kan berokken."
Hy verduidelik aan die hand van 'n voorbeeld. "Gestel iemand beleef 'n motorkaping. Omdat soveel betekenis opgesluit lê in taal, vertel die verhaal later vir die slagoffer, 'jy het skade, jy gaan nie weer regkom hierna nie'. Die verhaal vertel jou dinge wat later 'n mag oor jou het. Dit bly nie neutraal nie."
Botha noem dat die media dikwels 'n baie prominente rol speel in die vorming van hierdie verhaal. "Kom ons vat die Covid-19-verhaal. Hier is 'n emorme mag aan die werk deur middel van woorde en die betekenis daarvan."
In narratiewe terapie, verduidelik Botha, is die oogmerk om mense te help om die taal, dus die stem wat hulle so seermaak, stil te maak en hulle te help om 'n nuwe, heilsame betekenis te skep.
Isolasie
"Kom ons kyk weer na Covid-19. Mense is geïsoleer met hulle verhale, vasgekeer. Baie is tans in dialoog met hul storie. Isolasie kan uiters toksies wees."
Wat uitstaan in narratiewe terapie, sê Botha, is dat die persoon die ekspert in sy of haar eie verhaal is. "Die terapeut is 'n luisteraar wat die verteller wil laat voel dat daar totale respek vir hom of haar is binne 'n terapeutiese ruimte wat as 'n tuiskoms moet dien. Mense moet hierbinne besef - the person is the person and the problem is the problem."
Botha sê dat hy dié terapie op alle ouderdomsgroepe sien werk het. Jy hoef ook allermins 'n intellektuele reus te wees om daarby baat te vind.
Botha glo dat Covid-19 die emosionele nood onder mense in "turbo" geplaas het. Hy glo ook dat ons nuut moet dink oor hoe 'n samelewing terapeuties gehelp kan word.
"Ons kan leer by Zimbabwe. Daar was 'n groot tekort aan psigiaters. In antwoord hierop is die Friendship Bench-inisiatief ontwikkel. Dit is 'n gemeenskapsgebaseerde benadering tot geestesgesondheid. 'n Klomp oumas is opgelei in kognitiewe gedragsterapie en probleemoplossingsterapie. Die oumas sit op 'n bankie in hulle omgewing waar daar nood is en wie dit ookal nodig het, kom gesels met hulle."
Daar word berig dat sowat 70 000 mense op hierdie manier gehelp is om van angstigheid ontslae te raak.
"Sal dit nou nie 'n droom wees nie? 'n Dorp met bankies waar iemand wag om jou emosioneel te help en jy hoef nie 'n sent daarvoor te betaal nie?" mymer Botha.
Intussen, het die groep gemobiliseer om diegene met 'n emosionele las by te staan. Stuur 'n gerus 'n WhatsApp of Please Call Me na Caritas by 071 473 0507 om 'n opgeleide terapeut te bereik wat met jou sal kontak maak.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'