Update
RIVERSDAL NUUS – Huldeblyke stroom uit alle oorde in sedert die tragiese afsterwe van die bekende Riversdal-inwoner Anton Bredell (63) vroeër die maand. Die wynbedryf is geruk oor dié verlies en in rugbygeledere word hy ook onthou.
Hy was 'n veelsydige mens. Hy was 'n natuurliefhebber, 'n bewaringsaktivis, 'n belowende rugbyspeler, 'n bekroonde wynmaker en suksesvolle boer.
Almal wat hom ken, weet dat sy lont kort kon vonk, maar wanneer hy geglimlag en gelag het, was hy die sagmoedige reus wat 'n impak op mense se lewe gelaat het.
Hy het met 'n self-uitdagende passie geleef. Maar hy was ook die ongeluksvoël van die familie.
'n Bus het hom op 'n jong ouderdom op die teerpad voor die familieplaas raakgery. Dit was 'n traumatiese ongeluk en hy het by die dood omgedraai.
"Ons is die Here dankbaar dat Hy hom toe gespaar het en ons die geleentheid gegun is om sy kinders te wees," sê sy twee oudste seuns, Jacques en Bernhard.
Die Bredell-seuns: Christiaan, Liam, Bernhard, Basti en Jacques.
Woensdagmiddag, 8 November, op pad na sy plaas Welgevonden in die Van Wyksdorp-omgewing, het Anton om 'n draai beheer oor sy viertrekvoertuig verloor en in 'n sloot beland.
Hy is opslag dood. Daar - omring deur die Klein-Karoo se vetplante, klowe, diere, blomme, 4x4-paadjies, kranse, voëls en sy mense vir wie Anton so lief was - het sy siel rus gevind.
Anton was 'n puik rugby-speler en het op skool al in Cravenweekrugby uitgeblink. Hy het op universiteit vir Maties se eerste span gespeel. Einste Dok Danie Craven was 'n groot aanhanger van Anton se spelstyl. Hy het hom glo die bynaam 'Ou Liefde' gegee omdat hy Anton en sy destydse nooi, Marietjie (met wie hy in 1982 getrou het), dikwels langs die Eersterivier in Stellenbosch betrap het, pleks daarvan om betyds vir die oefening op te daag.
Anton is vir die Suid-Afrikaanse Weermag se rugbyspan gekies en het saam met groot name soos Neil Hugo, Rob Louw, Hennie Bekker en Schalk Burger (sr) uitgedraf.
Rugby was sy grootste passie en sy groot droom was om klubrugby in Frankryk te speel. Maar ná 'n tragedie as jong wynmaker in die kelder, wat 'n ernstige voetbesering tot gevolg het, was sy rugbydrome aan't skerwe.
Anton Bredell en sy weduwee, Lynne, by die strandhuis op Pringlebaai.
Toe het hy homself as wynmaker onderskei en groot erkenning onder die handelsnaam JP Bredell Wines verwerf.
Anton het in die negentigerjare verskeie toekennings vir sy wyn ontvang, onder meer twee keer die Generaal Smuts-trofee vir sy Cabernet Sauvignon en sy Cape Vintage Port. Hy het erkenning van Veritas en Nederburg geniet. JP Bredell Wines is as wyn-landgoed van die jaar benoem. Hy het die Suid-Afrikaanse Lugdiens se prestige-prys gewen en sy wynreeks was op talle SAL-vlugte beskikbaar. Hy is as lid van The Cape Winemakers Guild ingehuldig; die grootste eerbewys vir 'n wynmaker.
Anton het al in die negentigerjare grond in die Klein-Karoo begin koop en tussendeur die wynmakery sy plaas Welgevonden in die Van Wyksdorp-omgewing gevestig.
Ná sy pa se dood in 2010 moes Anton indringende besluite neem en hy het die familie-wynplaas verkoop, waarna hy hom as boer op sy Klein-Karooplaas gevestig het.
Anton was drie keer getroud. Uit sy eerste huwelik met Marietjie, 'n hoërskoolonderwyseres wat vanjaar aftree, is twee seuns gebore: Jacques (35) en Bernhard (33).
Uit sy huwelik met Haaidee (nou met die boer Pierre Vermaak getroud) het drie seuns gespruit: Liam (21), Christiaan (17) en Basti (15).
Sy derde huwelik met Lynne, die mede-eienaar van die Travel Lodge in Riversdal, het hom drie bonusseuns besorg: Donald, Leonard en CJ van Wyk.
Anton het 'n satiriese blik op die lewe gehad, alternatief gedink en onkonvensioneel geleef. Hy het altyd gesê: "Moenie 'n skaap wees nie - en ook nie 'n papegaai nie. Vind jouself en besluit wie en wat jy wil wees."
Anton het sy diensplig in die Suid-Afrikaanse Vloot op Gordonsbaai voltooi. Hy was ‘n sterk swemmer, diepseeduiker en spieshengelaar.
Hy hét homself gevind. Hy het toe wel nie 'n beroemde rugbyspeler geword nie, maar hy is 'n bekroonde wynmaker.
En, in sy eie woorde, sy grootste prestasie: "Al my kinders op wie is ek ontsettend trots is!"
'n Gedenkdiens word Maandag 20 November om 14:00 by die NG Kerk Helderberg in Firmountstraat, Somerset-Wes gehou.
Anton Bredell is op 8 Mei 1960 gebore.
Dié berig is moontlik gemaak met die samewerking van die Bredell-familie en is vir publikasie goedgekeur.
Vorige artikel: Plaaslike wynmaker oorlede
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’