HESSEQUA NUUS - Is Dag Zero vir Hessequa se water besig om ongesiens nader te sluip?
Weens die voortslepende droogte en hoë temperature daal die vlakke van die Korentepoortdam (36,5%) by Riversdal en die Duivenhoksdam (39%) by Heidelberg dramaties.
Verlede week het Danie van Dyk, bestuurder van die Korente-Vetterivierbesproeiingsraad verduidelik wanneer die vlak van die Korentepoortdam op tussen 40 en 20% is, landbou se water met 40% en die dorp s'n met 10% ingekort word; wanneer die dam se vlak laer as 20% daal, word landbou se water met 60% en die dorp s'n met 20% gesny. Dit laat 'n mens besef dat jy dit nie as vanselfsprekend kan aanvaar dat daar altyd water sal wees wanneer jy die kraan oopdraai nie.
Tog lyk dit of inwoners in die streek hulle nie juis aan vlak 3-waterbeperkings steur wat in Riversdal, Albertinia en Heidelberg geld nie. Gouritsmond, Stilbaai en Melkhoutfontein, asook Witsand keer terug na vlak 2. Indien die vlak van die Korentepoortdam verder daal, kan vlak 4-beperkings moontlik vanaf 1 Februarie ingestel word.
Vlak 3-beperkings beteken dat elke persoon slegs 150 liter per dag mag gebruik. Tuine mag slegs met 'n tuinslang in die hand, 'n emmer of gieter of met 'n outomatiese besproeiingstelsel natgemaak word, en dan ook net een maal per week tussen 16:00 en 18:00, met gelyke straatnommers op Dinsdae en ongelyke nommers op Donderdae.
Motors mag slegs met 'n emmer gewas word en harde oppervlakke mag nie afgespuit word nie. Indien ander waterbronne gebruik word, moet dit duidelik aangedui word. Sekere instansies kan vir verslapping van die reëls aansoek doen.
Soveel mors jy
- 6 liter as jy die kraan laat loop terwyl jy tande borsel;
- 6 tot 45 liter water per minuut as jy stort;
- 15 liter water per dag of 5 500 liter per jaar as 'n kraan drup;
- 1 000 liter water per uur wanneer jy 'n tuinslang gebruik;
So spaar jy
- Draai die kraan toe terwyl jy tande borsel;
- Sit 'n baksteen in die toiletwaterbak;
- Stort binne 3 minute;
- Indien jy nie 'n stort het nie, bad in net genoeg water;
- Maak 'n druppende toilet, kraan of lekkende pyp dadelik heel;
- Gebruik grys water uit die bad of wasmasjien om die bome in die tuin nat te lei;
- Gebruik 'n deklaag om verdamping uit beddings of planthouers te bekamp;
- Was net 'n vol lading wasgoed of skottelgoed.
Reën bring hoop, nie uitkoms
Dit is nie net in Hessequa waar damvlakke wat ook vir besproeiing gebruik word, laag is nie. Maar terwyl sommige streke reeds met reën geseën is, wag ons nog op uitkoms.
"Ten spyte van reën wat in die Sentraal- en Klein-Karoo van die Wes-Kaap geval het, gaan dit nog goeie reën kos om die droogte te breek," sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.
"Ons is dankbaar dat die nuwe jaar op so 'n geseënde manier vir ons produsente in die Karoo wat al vyf jaar onder die droogte gebuk gaan begin het. Hoewel die reën baie hoop gebring het, is die uitkoms nog ver en opvolgreën is krities nodig vir die vlakke van plaas- en opgaardamme en vir natuurlike weiding om te herstel."
Volgens hom kan produsente dalk een of twee jaar van ondergemiddelde reënval hanteer, maar die uitwerking van vyf jaar se ondergemiddelde reën kan waarskynlik net uitgewis word met vyf agtereenvolgende bogemiddelde jare. "Ons glo verlede week se buie is die begin van 'n goeie reënseisoen vir die hele gebied."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'