RIVERSDAL NUUS - 'n Inskrywing op Suid-Kaap Forum se Facebook-blad het die oog van 'n barmhartige Samaritaan van Stilbaai gevang en 'n mooi oplossing vir 'n behoeftige seun se wekroep gebring.
Die 16-jarige Ronaldo (na die naam van die wêreldbekende Portugese sokkerster) het by die Forum se kantoor in Riversdal kom aanklop met 'n versoek vir 'n paar sokkerskoene, al is dit tweedehands, omdat syne flenters gespeel is.
Geld by sy ouerhuis in Kwanokuthula is daar nie. Om kaalvoet te speel sal ook nie deug nie, want sy voete sal vodde wees.
Die sokkerseisoen het verlede Saterdag in Melkhoutfontein met 'n groot inter-klubtoernooi afgeskop en Ronaldo is een van sy span se sleutelspelers. Hy het oral rondgevra, maar niemand kon of wou hom help nie.
Toe onthou hy 'n gesprek in 2022 met die nuwe redakteur, juis oor sokker, en my versugting dat ek graag foto's van plaaslike sokkertoernooie sal wil neem as die nuwe seisoen aanbreek.
Dis toe waar Ronaldo verlede Vrydag pleitend aan my kantoorvenster kom klop met sy versoek.
Die plasing op Facebook het feitlik onmiddellike reaksie uitgelok toe Wilber Gerber, wat in Stilbaai bly en deeltyds vir Radio Fynbos werk, daarop gereageer het.
"Ja, hy het feitlik 'n splinternuwe paar skoene en toevallig 'n nommer 7 wat Ronaldo verlang. Die skoene kan Ronaldo maar verniet kry, maar ons moet dit net in Stilbaai kom afhaal."
Dit was omtrent 'n militêre operasie om die skoene betyds voor Sondag hier in Riversdal te kry. 'n Behulpsame verkeersman, wat toevallig Saterdag in Stilbaai aan diens was, het gelukkig tot ons hulp gekom en die skoene by die Brugmark gaan optel. Dis Sondagoggend by die Forum afgelewer.
Foto: Hugo Redelinghuys
Die dankbaarheid en vreugde in Ronaldo se oë kan moeilik in woorde omskryf word. Kom ons volstaan met "daar was trane..."
'n Aangedane Ronaldo het onmiddellik vir Wilber gebel om hom vir die groot geskenk te bedank. Die woord "dankie" is nog nooit so baie in so 'n kort tydjie in die redakteurskantoor gehoor nie. Gewoonlik is dit eerder 'n geval van 'n "geween en geknetter van tande."
Dat so 'n klein gebaar soveel vreugde op 'n Sondagoggend kon bring. Dit was kosbaar.
Dankie Wilber. Dis mense soos jy wat 'n enorme verskil in 'n behoeftige se lewe maak.
Wilber Gerber het die paar sokkerskoene uit sy kas opgediep en dit vir die 16-jarige Ronaldo geskenk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’