Gallery Update
GOURITSMOND NUUS - Só iets het Gouritsmond nog nie beleef nie. 'n Instroming van bykans 600 mense op brullende motorfietse het dié knus vakansiedorp soos 'n orkaan getref en die inwoners waarskynlik vir die duur van die saamtrek sprakeloos gelaat.
In skrille kontras met van die groot motorfietssaamtrekke waar die koppe soms uithaak, is die eerste Whale-motorfietssaamtrek in Gouritsmond sonder enige onaangename voorval aangebied.
Trouens, als het seepglad verloop, sê Bettie Moolman, 'n inwoner van die kusdorp.
"As só 'n klomp motorfietsryers op 'n klein dorpie toesak, verwag die inwoners mos die ergste.
"Maar dit was werklik 'n gawe klomp mense en hul gedrag was onberispelik. Skoon vermaak en ja, die gebrul van motorfietsenjins is nie iets wat ons aldag hier ervaar nie, maar daar was nie 'n laatnag rumoer wat inwoners rooi laat sien het nie.
"Die enigste lastigheid was die wind wat die saamtrek bietjie geteister het, maar dis te wagte dié tyd van die jaar."
FOTOGALERY: Whale-motorfietssaamtrek in Gouritsmond
Die Whale-motorfietssaamtrek is aan-vanklik in Hartenbos aangebied, maar met die verskuiwing van die Buffalo-motorfietssaamtrek, ook na Hartenbos, het die organiseerders, die Ulysses Garden Route-klub, besluit om dit te skei en na Gouritsmond te verskuif.
Die manne spog met hul ysterperde.
Moolman reken twee sulke groot saamtrekke op dieselfde plek sal mekaar negatief beïnvloed, veral wat die bywoning betref.
Alle beskikbare vakansiehuise was uitverhuur en dit het die verblyfreëlings aansienlik vergemaklik.
Die klub wil graag dié naweekuitstappie as 'n gesinsaamtrek vestig. Vir die motor-fietsryers, wat hoofsaaklik vanuit die Kaapprovinsie, Gqeberha (Port Elizabeth) en die Tuinroete afkomstig was, het 'n vol program gewag wat musiek en dans ingesluit, wat 'n lekker kuier afgegee het. Die bierdrink- en buitebandslingerkompetisie vir mans en vroue het groot aftrek gekry. En so ook die toutrekkery.
Die organiseerders was hoogs tevrede met die uitkoms en ook Hessequa-munisipaliteit het aangedui dat hulle dit bitter graag wéér in Gouritsmond wil aanbied. Moolman sê om die wind hok te slaan, sal dit waarskynlik aanstaande jaar in Junie plaasvind.
FOTOGALERY: Walvis-saamtrek op Gouritsmond
Lionel Geweld (regs) van die CC Riders-klub met die tjek vir R30 000 wat hy in 'n gelukstrekking gewen het. By hom is Eddie Eddie Boshoff, president van Ulysses Garden Route-motorfietsklub.
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'