HESSEQUA NUUS - In Suid-Afrika is Septembermaand as Erfenismaand bekend. Dit is goed dat inwoners van die gebied tussen Vleesbaai en Stilbaai, maar veral ook die res van ons land, kennis neem van die vergete manier van waterbewaring voor die koms van windpompe.
Sonder water sou daar op aarde geen lewe gewees het nie. Die toenemende bevolkingsgroei, uitbreiding van die landbou, industrieë, droogtetoestande en verstedeliking dra by tot 'n verhoogde aanvraag na water in Suid-Afrika.
Ons land se landbouproduksie strek verder as 300 jaar terug en vir die eerste twee eeue ná die stigting van die Nederlandse kolonie aan die Kaap in 1652, was landbou die ekonomiese kernbedryf in Suid-Afrika. Die konstante soeke na beter weivelde het meegebring dat sommige veeboere gedurig moes rondtrek en hulle sodoende nie op een plek kon vestig nie.
In ons land het 'n verskeidenheid probleme in die landbou waarvan onder andere langdurige droogtes die bevolking laat besef dat die opgaar van water vir landbou- en huishoudelike doeleindes 'n prioriteit is.
Water is deur die eeue heen op verskillende metodes opgegaar. Van die vroegste metodes was die bewaar van water wat op plase in fonteine gevind is.
Die ander baie besondere metode - en waarskynlik die enigste in die land - word in die Suid-Kaap gevind waar water vir die pioniers se diere in "ondergrondse damme" opgegaar is. Langs die Gouritsrivier is op klein stukkies grond lusern aangeplant en met water uit fonteine in die Kalkberge natgelei.
Die probleem met genoegsame water was egter in die gedeelte suid van die N2 wat vanaf Gouritsrivier tot by die afdraai na Stilbaai strek. In die volksmond is die streek as die duineveld bekend en sluit onder andere Hecktorskraal, Swartklip, Melkhoutfontein, Vermaaklikheid en Blombos in.
In dié deel was daar baie plase waar bestaansboerdery beoefen is. Aanvanklik was die paaie baie swak en die vervoermiddels hoofsaaklik per ossewa, perdekar en te perd.
Die boere moes baie kreatief dink om water op te gaar.
Op die plaas Hecktorskraal waar Doris Kleynhans en sy vrou, Sannie, geboer het, is die diep natuurlike putte in die kalkgesteentes skoongemaak en met klipmure "omhein." Omheining was noodsaaklik en het verhoed dat diere nie in die "putte" val nie. Wanneer dit reën is die water vir dierlike gebruik daarin opgevang en dan in 'n trog langs die muur vir die diere geskep.
Die tweede metode, en 'n baie unieke metode, is om op die dele van die veld waar die grondsamestelling meer kalkagtig is "ondergrondse damme" te bou. Die inwoners van die streek verwys ook na "plaatdamme."
Daar word eers 'n kalkagtige deel teen die helling van die duin geïdentifiseer. Daarna word die oppervlak ontbos en alle klippe en sand word verwyder.
Teen die laagste deel van die helling word 'n stuwal gebou sodat die reënwater na die "dam" afgevoer kan word. Die gat word met sement uitgemessel en van 'n uitloop voorsien sodat water in 'n trog opgevang kan word.
Met die koms van windpompe en ook die verandering van boerdery in die omgewing het die dam in onbruik geraak. Dié argitektuurskat is 'n stille getuienis van hoe pioniers in die deel van ons land kreatief moes wees om te kan oorleef.
Dr. Okkie Stander is 'n kultuur- en historikus en woon in George.
'n Voltooide plaatdam, maar wat tans in onbruik is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’