SUID-KAAPNUUS - Ongelukkig word daar in bykans elke streek onwettige hondegevegte gereël én dit word deur sommige mense ondersteun.
Die nasionale dierebeskermingsvereniging (NDBV) bied 'n beloning van R15 000 aan vir enigiemand wat inligting kan verskaf wat tot die inhegtenisname en skuldigbevinding van oortreders lei.
Volgens wet mag jy op geen manier by dieregevegte betrokke wees nie. Dit is ook onwettig om diere te teel wat vir gevegte gebruik word, hulle aan te hou, te koop, verkoop of in te voer.
Niemand mag 'n dier aanspoor om met 'n ander dier in 'n bakleiery betrokke te raak nie. Dit is teen die wet om dié soort gevegte op jou erf, by jou woning of by enige plek waaroor jy beheer het, aan te bied.
Jy oortree die wet wanneer jy dieregevegte vir die invordering van geld of vermaak bevorder. Dit is selfs teen die wet om na hondegevegte te kyk of bloot net 'n toeskouer by enige plek te wees waar hondegevegte plaasvind.
Hoe identifiseer jy die euwel en hoe kan jy help?
- Veghonde (pit bull) wat met groot, sterk kettings vasgemaak is.
- Woongebiede of eiendom waarop honde aangehou word wat nie gesteriliseer is nie en kwaai en aggressief is.
- Wanneer honde baie littekens veral op die gesig en bors het.
- Plekke wat vir hondegevegte gebruik word, is gewoonlik vierkantig en het bebloede vloere.
- 'n Eienaar ruil gereeld honde. Soos honde vrek, koop of steel hy 'n ander een.
Indien jy van enige hondegevegte in jou gebied weet, skakel die NDBV by 011 907 3590 of stuur 'n e-pos na specialinvestigations@nspca.co.za.
Jy kan ook aan Suid-Kaap Forum se deur kom klop indien jy iets vermoed. Jy mag te alle tye anoniem bly.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'