Gallery Update
HEIDELBERG NUUS - Ongeveer 230 vroue is Dinsdag en Woensdag, 9 en 10 Augustus, by drie verskillende funksies bederf as deel van die Vrouedag/maand-vieringe.
By die eerste funksie was 25 vroue in Joe Slovopark, onder leiding van Magrieta Carollisen bederf met 'n ete en motiveringspraatjie. Die verrigtinge is deur 'n plaaslike vrouegebedsgroep, Die Spice Girls, aan huis van Carollisen aangebied.
Sophia Pieters en Sally Fielies het die vroue met Skriflesing uit Lukas 12 en insiggewende praatjies bemoedig.
Die tweede funksie is in die Duivenhoks-gemeenskapsaal deur die plaaslike polisie se traumakamer, Da Gamaskop-streekvrouenetwerk, departement maatskaplike dienste en Suzie's Sopkombuis aangebied.
Nagenoeg 170 vroue van Heidelberg en Slangrivier is hier met 'n ete en motiveringspraatjie bederf. Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, asook kapt. Rosetta Bhana, Da Gama-streekkapelaan en ander prominente beamptes in die streek het die verrigtinge bygewoon.
Pojie het as seremoniemeester opgetree, terwyl Bhana die vroue met Skriflesing en 'n kort toespraak bemoedig het.
Van die vroue het hulle verhale met die gehoor gedeel en die aanwesiges aangemoedig om hul regmatige plek in die samelewing en veral in hul gesinne vol te staan.
Die vroue is ook herhaaldelik van hulle regte bewus gemaak.
Verskeie sangitems is deur plaaslike sangers en musikante aangebied, wat tot 'n feestelike atmosfeer bygedra het. Die vroue het 'n heerlike viergangmaaltyd geniet. Dié spoggeleentheid is deur sers. Imorgene Hendricks, plaaslike media en sosiale beampte, asook koördineerder van die funksie gereël.
Ongeveer 30 vroue, waarvan die meerderheid begunstigdes van Kindersorg se dienste en projekte is, is Woensdag deur die plaaslike Kindersorgtak ook in die gemeenskapsaal bederf.
Ook hier het sommige hulle lewensverhale vertel, deur mekaar sodoende opnuut te bemoedig om nie moed op te gee nie, ten spyte van moeilike omstandighede.
Die vroue was aan die spits van Kindersorg se vieringe. Agter, van links: Thelma Scholtz (OVK kantoorbestuurder), Luzanne Geldenhuys, Mershan Jantjies, Lesleigh-Ann Weber (al drie hulp maatskaplike werkers), Mariska Stols (maatskaplike werker) en Pina Pieters (Kindersorg-bestuurslid). Voor: Andrid Goliath en Devinia Barlow (gasspreker).
Vorige artikel: Vrouedagvieringe in Heidelberg
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'