Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - Tipiese Meksikaanse bestanddele, en nie die tradisionele Suid-Afrikaanse resep van tamatie, uie en kaas, het die deurslag gegee toe Hessequa se braaibroodjiemeester op Saterdag 3 September gekroon is.
Vyf finaliste het by die Legends-kuierkroeg in Riversdal hul spesiaal voorbereide braaibroodjies, elkeen natuurlik met sy eie kleure en geure, op die kole onder die waaksame oë van die drie beoordelaars voorberei.
Dié vyfstuks - Lezanne Zietsman, Madelaine Theart, Yolanda en Jano Prinsloo, almal van Riverdal, en Renatha Götz van Stilbaai - moes al die bestanddele gebruik wat hulle vooraf op hul onderskeie resepte aangedui het.
Metgeselle, in al die gevalle mans, is wel toegelaat om te help met die braaiery - tradisioneel natuurlik 'n man se domein.
Die beoordelaars moes behoorlik kopkrap en al hul smaaksintuie inspan om die wenner te bepaal. Twee finaliste het daardie spreekwoordelike ekstra treetjie gegee om die beoordelaars te beïndruk en dit het so ampertjies 'n fotobeslissing geneem om die uiteindelike braaimeester aan te wys.
Met haar kombinasie van gekerfde Jalapeno's, beleë cheddar, dhania, knoffel en suurlemoensap het Renatha Götz van Stilbaai met die titel as Hessequa se braaibroodjiemeester weggestap.
Kort op haar hakke was Yolanda Prinsloo, wie se eg Suid-Afrikaanse opdiening, kompleet met gemmerbier en proteas - en geklee in haar Springbokrugbytrui om gees te vang vir die rugbytoets teen die Aussies - vir haar waardevolle punte verdien het.
Haar seun, Jano, was derde terwyl Madelaine Theart en Lezanne Zietsman die vierde plek gedeel het. Hul tradisionele Suid-Afrikaane manier van braaibroodjies - ja Kerneels, tamatie, uie en kaas - sou braaipuriste laat brul het van braaiplesier.
En wat is 'n lekker braaibroodjiebraai dan nou sonder 'n bietjie drama? Madelaine het, terwyl sy besig was om haar braaibroodjies voor te berei, die skerp mes laat glip en haar vinger gegaffel.
Dié is inderhaas verbind met gelukkig min bloedverlies, maar manlief, Jacques, moes toe inspring om te help nadat hy eers met 'n versterkinkie uit die Legends-kroeg moes inskeep om oor sy skok te kom.
Jacques Theart moes inspring om die braaibroodjies voor te berei nadat sy vrou, Madelaine, haar vinger per ongeluk raakgesny het.
Verskeie van die ander manlike braaiers het uiteraard sy voorbeeld gevolg om hul senuwees te kalmeer voordat die groot braaiery begin.
Al die finaliste het ekstra boordjies gebraai en die aanwesiges kon deel in die groot proëery.
Die finaliste kon kies uit die geborgde pryse. Renatha se keuse het geval op 'n wyngeskenkpak van Jakkalsvlei terwyl Yolanda 'n R500-geskenkbewys van Riversdal Spar en Jano 'n ete vir een en wynproe vir twee by De Doornkraal Historic Country House gekies het. Die troospryse is ook deur De Doornkraal geborg.
Die beoordelaars was Marlene Fledermaus (Marlene's Take Away's), Ben Potgieter (Legends-bestuurder) en Eleane Burger (De Doornkraal Historic Country House).
Die braaibroodjiemeester, Rentha, se afskeidsboodskap het diep geroer: "Niks klop 'n braaiboordjie met tamatie, uie en kaas nie. Dit bly maar die beste!"
Daar is reeds groot planne om dié braaibroodjiekompetisie aanstaande jaar in 'n groot makietie te omskep - iets waaraan Hessequa-inwoners hopelik in hul honderde sal deelneem.
jano Prinsloo was derde in die Hessequa-braaibroodjiekompetisie. By hom staan Wilma Adamson, redakteur van Suid-Kaap Forum
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'