Update
HESSEQUA NUUS - Die topvyf braaibroodjiemeesters wat verlede week aangewys is, gaan Saterdag 3 September by 'n proegeleentheid teen mekaar meeding om as Hessequa se algehele braaibroodjiemeester aangewys te word.
Die geleentheid vind by Legends in Riversdal vanaf 09:00 plaas.
Lézanne Zietsman, Yolanda Prinsloo, Renatha Gotz, Madeleine Theart en Jano Prinsloo gaan hulle resepte verklap en ook wys hoe om hul besondere braaibroodjie voor te berei. Terence Lievaart, wat aanvanklik onder die vyf was, moes onttrek omdat iets voorgeval het.
Vir die kompetisie mag maksimum twee broodjies voorberei word, maar daarna kan soveel broodjies gebraai word as wat daar plek op die vuur is.
Ons wil dit 'n lekker kuiergeleentheid maak, dus kan die persone wat ingeskryf het, 'n metgesel saambring wat dalk ook die braaibroodjie kan braai indien verkies.
Die broodjies sal deur Eleane Burger van De Doornkraal Historic Country House, Marlene Fladermuas, spysenier en Ben Potgieter, bestuurder van Legends beoordeel word. Die topvyf sal streng by die reëls moet hou om nie gediskwalifiseer te word nie.
Punte sal tel vir die voorbereiding van die broodjie, hoe dit proe en die opdiening daarvan.
Die pryse waarom meegeding word, is (in geen spesifieke volgorde nie) 'n geskenkbewys van De Doornkraal Historic Country House wat 'n ete vir een persoon en wynproe vir twee persone insluit, 'n Jakkalsvlei-geskenkpak met 'n verskeidenheid van hul wyne en 'n geskenkbewys van Riversdal SuperSpar.
Hout word deur Legends, Riversdal voorsien.
Reëls
- Braaibroodjies moet op eie koste voorberei word;
- Slegs die bestanddele op die resep verskaf mag gebruik word; niks mag weggelaat of bygevoeg word nie.
- Die opdiening van die braaibroodjie kan egter so aantreklik moontlik gemaak word met bykomstighede, solank dit nie op of in die broodjie is nie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'