Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Ten spyte van omstandighede wat haar lewe sowat 44 jaar gelede drasties verander het, het dit haar nie gekeer om bokant haar omstandighede uit te styg nie.
Vir Magdalena Hoffman, bekende kitaarspeler van Joe Slovo-park, wat op 11-jarige ouderdom die gebruik van haar bene verloor het, het dié struikelblok eintlik as motivering gedien.
Hoffman, enkelma van een seun en ouma van drie kleinkinders, het Maandag 17 Junie haar 55ste verjaarsdag gevier.
Dié ystervrou, soos sy haarself beskryf, was 'n talentvolle atleet by De Waalville Primêr toe sy tydens die 4 x 100 m-aflos op Riversdal geval en haar laerrug beseer het. Sy is ook meegedeel dat sy tering in haar rugwerwels ontwikkel het.
Na drie rugoperasies in die Rooikruis-kinderhospitaal, het sy tydens haar verblyf in Prinses Alice Ortopediese-hospitaal die kitaar opgeneem en voltyds begin lesse neem. Sy het wel vroeër by hul huis haar oom se kitaar sonder sy medewete 'gespeel' en toe reeds 'n liefde daarvoor gekweek.
Volgens dié toegewyde gospelsanger was die nuus destyds dat sy met krukke oor die weg moes kom, nie vir hulle as gesin goeie nuus nie, want sy het 'n belowende loopbaan op die atletiekbaan gehad het.
Maar die negatiewe gebeurtenis het tog 'n positiewe invloed op haar lewe gehad en dit was juis in hierie hospitaal dat sy haar eerste kitaar as geskenk ontvang het nadat haar musiekonderwyser, Lady van der Hoorn - soos hulle haar genoem het - haar potensiaal raakgesien het. Hoffman, een van vier kinders waarvan net sy en een suster nog leef, tree gereeld by kerk-, skool-, trou- en verjaarsdagfunksies op. Haar droom is om 'n CD van haar gunsteling liedere te maak voor haar stembande ingee. Sy verrig nog self al haar dagtake.
"Ek wil nie ander mense steur terwyl die Here my nog die krag gee om my eie werk te doen nie," het sy benadruk.
Tydens die onderhoud het Hoffman met haar kitaar en die lied Niks is onmoontlik in Sy Naam gesing. Dis juis dié lied wat haar elke dag versterk.
Kyk 'n video hieronder:
•Lees 'n vorige artikel hier: Ystervrou met 'n goue stem
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'