RIVERSDAL NUUS - Prof. Francois Durand van die Universiteit van Johannesburg het as gas van die die Green Vingers-tuinbouklub van Riversdal op Donderdag,16 Maart, boere uit die omgewing oor klimaatsverandering en voedselsekerheid in Suid-Afrika toegespreek.
Durand sê uitsterwing is die gevolg van mense wat gedink het dat koolsuurgas die probleem is. "Dit is egter die mens wat gasse vrystel."
Vir die afgelope 150 jaar is daar al bekommernis daaroor, sê prof. Durant, maar regerings en besighede het saamgesweer om dit nie bekend te laat word nie.
Teen die einde van die eeu gaan die gemiddelde temperatuur in die wêreld met 3,6% styg. Wetenskaplikes het duidelik hulle deel gedoen, maar het ten spyte van die mediadekking nog steeds gefaal.
Oliemaatskappye het die wetenskaplike feite toegesmeer en die gevolg is dat die yskappe besig is om te smelt. Daar is eenvoudig net te veel mense op aarde wat moet eet en geklee word.
Hy sê jaarliks sterf 15% van die wêreldbevolking van hongersnood, maar dit sal nooit verminder nie, want hoe meer kos geproduseer word hoe meer mense is daar op aarde.
Klimaatsverandering is almal se probleem.
Durand sê dat een van die grootste sondebokke is die uitkap van die tropiese reënwoude in die Amasone om plek te maak vir beesplase. Die reënwoude beslaan 7% van die aarde se oppervlak, maar huisves 50% van alle spesies in die wêreld.
"Voedselsekerheid in Suid-Afrika word ongelukkig nie net deur klimaatsverandering bedreig nie, maar ook deur buitelandse state. Die BRICS-lande is besig met subtiele aanslae op SA se voedselsekerheid. Hul honger na steenkool en ander mynbouprodukte is welbekend."
Slegs 1,5% van Suid-Afrika se beste landbougrond is regtig topgehalte en 46% van hierdie grond is in Mpumalanga. Mynbou is besig om hierdie landbougrond te vernietig en die regering draai 'n blinde oog ten spyte van die landswette. Suid-Afrika is die sewende grootste steenkoolprodusent in die wêreld en dan ook die vyfde grootste uitvoerder van steenkool in die wêreld.
"Rehabilitasie" van hierdie uitgewerkte myne is 'n klug, reken Durand. "Oopgroefmyne word eenvoudig toegestoot met die gemors wat nie gebruik kan word nie en daai gemors lê daar morsdood en vernietig alles om hulle."
Prof. Durand gesels met Ivan Francis, leerder by Oakdale.
Volgens Durand dui die weerpatrone daarop dat die suidelike deel van die land 'n noemenswaardige afname in reënval beleef en voedselsekerheid in Afrika word bedreig deur die bevolking wat vinniger groei as wat voedsel produseer word.
"Hierdie oorbevolking gaan ongekende lyding en konflik veroorsaak."
Ten slotte sê Durand klimaatsverandering bring twee uiterstes: groot vloede, of droogte en brande. "Daar is nie meer eweredigheid in weerpatrone nie en as die mensdom nie wakker skrik en begin optree nie, gaan daar niks wees vir ons nageslag om na uit te sien nie.
"As elkeen sy klein deeltjie doen by sy huis, op sy plaas, by sy werk en by sy skool, kan dit die verskil beteken tussen 'n verskroeide aarde of 'n lowergroen paradys. As jy die natuur wil help, plant 'n boom."
Albert de Klerk, munisipale bestuurder van Hessequa-munisipaliteit.
Anzette Finnemore, koördineerder van die dag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’