Ian Buckler van Petrus Steyn in die Vrystaat was besig om lande op die plaas Waterkloof te bespuit op Vrydag, 12 September toe dit blykbaar die onderste hoogspanningsdrade van Eskom se kragdrade getref het en dit veroorsaaak dat die vliegtuig grond toe is.
Die vliegtuig, 'n Cessna 188 wat aan Trio Lugbespuiting op Frankfort behoort, het op die buurplaas van Hannes Uys neergestort. Volgens 'n ooggetuie en 'n werker op Waterkloof, Samuel Claasen, het die voorval teen ongeveer 10:00 plaasgevind.
Lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Witsand, EMS, polisie en brandweerdienste was op die toneel, asook boere en hul werkers van die omgewing om hulp te verleen.
"Met ons aankoms was van die plaaslike boere reeds besig om die ernstig beseerde vlieënier, wat alleen in die vliegtuig was, te help," het Craig Lambinon van die NSRI gesê.
Hulle het mediese bystand verleen en die ongelukstoneel beveilig, asook voorsorg getref vir ingeval die vliegtuig aan die brand sou slaan.
'n Geneesheer van Heidelberg en die Red Cross Air Mercy Services Skymed helikopter van Oudtshoorn is ontbied. Buckler, wat veelvuldige beserings opgedoen het, is op die toneel deur die geneesheer, paramediese en NSRI mediese personeel gestabiliseer voor hy met die helikopter na George Hospitaal geneem is.
Hy het egter Vrydagmiddag om 14:40 aan sy wonde beswyk.
Volgens ao Alroy Windvolgel, plaaslike media beampte, het hulle die gebied afgekordon en bewaak tot die volgende dag wat die Burgerlugvaartowerheid (BLO) die toneel besoek het en hul ondersoek kon begin.
"Ons is baie dank verskuldig aan die boere en hul werkers wat ons gehelp het, veral om die volstruise wat in die omgewing gewei het, na ander kampe te neem om hulle te beveilig teen die moontlike brandgevaar."
Een van die eienaars van Trio, Johnny Smit, het aan Suid-Kaap FORUM gesê dat die vliegtuig in die week verwyder sou word. Hy het bygevoeg dat daar nog nooit 'n noodlottige ongeluk was sedert 1995 wat hy by die maatskappy betrokke is nie.
"Hierdie is vir ons 'n harde slag en ons wil ons innige simpatie aan Ian se familie betuig." Buckler het die afgelope agt maande vir hulle gevlieg. Die NSRI Witsand en plaaslike polisie het ook hul simpatie aan Buckler se naasbestaandes betuig.
Die begrafnisdiens vind Vrydag, 19 September om 11:00 vanuit die NG Kerk, Petrus Steyn plaas.
* IN SHORT
A Cessna 188 crop spraying light aircraft crashed on Friday, 12 September on a farm between Heidelberg and Witsand. The 21-year-old pilot, Ian Buchner of Petrus Steyn (Free State) was seriously injured. Witsand NSRI volunteer rescue duty crew, EMS and a local doctor from Heidelberg provided medical assistance to their best ability .
After he was stabilised, he was transported by helicopter to George Hospital, but succumbed to his injuries later the same afternoon. The area was cordoned off by the local police and kept under surveillance until the next day when the Civil Aviation Authority (CAA) inspected.
One of the owners of the aircraft, Johnny Smit, told South Cape FORUM that there has never been a fatal accident since the day he joined the company in 1995. The funeral service will be held on Friday, 19 September at 11:00 at the NG Kerk, Petrus Steyn.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.

Die hoogspanningsdraad wat getref is. Foto's verskaf deur ao Alroy Windvogel.
ARTIKEL: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'