Die Tuin-op-die-Brak bestaan reeds uit 'n aantal interessante fasette en gaan die vleiland bydra tot die waarde van die spesiale tuin en natuurlik die skep van 'n gesonde ekosisteem vir voëls, paddas asook diere en plante wat naby water lewe.
Suid-Kaap FORUM het met Naomi van Schalkwyk van die TOB gesels rakende die vleiland en konstruksie daarvan. Volgens Naomi het die bestuur van die TOB op die konstruksie van 'n vleiland besluit aangesien hul graag wil seker maak dat daar soveel moontlik van Hessequa se plante verteenwoordig word in die Fynbospark. Daarom dat daar reeds spesifieke habitatte geskep is soos klipkoppies vir die kalkrant fynbos en 'n sandvlakte vir die dektriet en soortgelyke plante en daarom ook dan 'n vleiland vir plante wat naby water voorkom, plus 'n duin vir die duineplantegroei.
Die vleiland was volgens Naomi van die begin af deel van die Fynbospark se beplanning, want hulle het geweet van die kleilaag onder die opvulsel aangesien dr. Ben Farrel voor enige werk verrig is op die TOB toetsgate laat grawe het en grondtoetse uitgevoer het. Die teorie is dus dat die water syfer tot op die klei en bly dus daar. Met die uitgrawings het presies dit gebeur, nog voordat die pikswart klei gesig gewys het, het die water begin deursyfer.
Vleiland plantegroei:
Naomi noem dat die mensgemaakte vleiland nou verskillende soorte plante in lae nodig het. In die water sal waterlelies (Nymphaea alba) en waterblommetjies (Aponogeton distachyos) blom terwyl op die volgende laag plante wat van nat voete hou soos varings en varklelies. Hierna volg ander plante wat net naby water wil staan en laastens bome waarvan die wortels self tot by die water kan kom. Daar gaan ook 'n paar voetpaadjies aangelê word vir persone wat deur die vleiland wil stap, en natuurlik bankies om net die rustigheid van die omgewing te geniet.
Van kardinale belang:
Vleilande is van kardinale belang aangesien dit soos natuurlike damme funksioneer. Tydens swaar reën suig die vleilande die water op soos 'n spons en stel dit stadig vry deur die res van die jaar. As die vleilande nie daar is nie, spoel al die water dadelik weg. Vleilande reinig water en voorsien ook 'n habitat vir verskillende plante en diere. Weens die aard van die tipe plantegroei en grond wat in vleilande voorkom, besit vleilande die vermoë om vloedwaters se snelheid te vertraag en vloedskade sodoende te voorkom. Dit dien ook dieselfde funksie as 'n spons wat water hou en stadig vrylaat. Die palmiet in die vleilande buig saam met die vloei van die water en vertraag so die spoed van vloedwater. Waar vleilande nog onbeskadig is kom bitter min vloedskade voor. Behalwe vloedskade kan die beskadiging van vleilande veroorsaak dat riviere nie meer standhoudend vloei nie.

Hier word die vleiland gebou met rooipitjie latte.
ARTIKEL EN FOTO'S: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS